Marie Seegers oor Bosveldfees 2018

LEPHALALE — Die 33ste Bosveldfees het Saterdag 7 Julie op ʼn groot hoogtepunt geëindig met ʼn optrede van die Matshepo Band. ʼn Eerste van sy soort en volgens talle ʼn stap in die regte rigting.

Marie Seegers bedank almal wat ʼn deel gehad het aan die sukses van die Bosveldfees 2018

Volgens Marie Seegers, voorsitter van die Bosveldfeeskomitee, het minder mense as verlede jaar die fees Donderdag en Saterdag besoek, maar daar was Vrydag baie meer besoekers as verlede jaar. “Ons het ʼn baie koue naweek gehad, so ons was dit te wagte,” sê sy oor Saterdag se opkoms.

Marie sê hulle is egter tevrede met die opkoms oor die algemeen. “Sodra die bedrag wat aan die skole uitbetaal moet word vir die bemanning by die hekke bekend is, sal ons dit aan die gemeenskap bekendmaak,” sê sy.

Volgens Marie was daar vanjaar ʼn goeie verskeidenheid kunstenaars wat opgetree het en sy glo daar was regtig iets vir elkeen se smaak.

“Die teaterstuk “Keelvol” was ʼn groot sukses en dit is goed bygewoon (alhoewel die kunstenaars bietjie verdwaal en laat opgedaag het). Dit is my droom om meer teaterstukke op die Bosveldfeesprogram te kan hê en ek hoop om dit in die toekoms te kan bewaarheid,” sê sy.

En die stalletjies?

Marie sê alhoewel die hoeveelheid stalletjies die afgelope paar jare teleurstellend min was, was daar tog ʼn paar kwaliteitstalletjies. “Ons sal baie graag in die toekoms meer plaaslike en handgemaakte produkte wil sien en ons vra weer eens dat mense uit ons kontrei ons sal kontak en met ons gesels. Ons het ʼn spesiale aanbod vir plaaslike uitstallers. Die teetuin wat vanjaar in die saal was, is ʼn goeie voorbeeld van plaaslike uitstallers wat na vore gekom het. Ons hoop om daarop voort te bou,” sê Marie.

Volgens haar was die kosstalletjies baie gewild en was baie daarvan reeds Saterdagmiddag uitverkoop. “Hopelik sal dit die weg baan na meer en beter in 2019”. Marie sê die sekuriteit was uitstekend en geen ernstige voorvalle is gerapporteer nie. Die geïsoleerde diefstalgevalle was dadelik aangespreek en goedere is meerendeels teruggevind.

Sy bedank ook die “professionele en toegewyde noodhulpspan” van Exxaro wat die noodhulptent beman het en volgens haar is daar geen ernstige voorvalle aangemeld nie.

“Ek bedank graag elke instansie en persoon wat geborg en gehelp het met die voorbereiding vir die fees en tydens die fees. ʼn Heerlike feestelike atmosfeer het in die gemeenskap geheers – vanaf die optog, die Bosveldbal en ook tydens die Fees. Die Bosveldfeeskomitee is ʼn groep mense saam met wie ek kaalvoet oor die Drakensberge sal stap en hulle werk baie hard vir ons dorp. Baie dankie aan elkeen vir sy bydrae,” sluit Marie af.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.