Marlothii’s het talent

LEPHALALE — Die leerders van Marlothii Learning Academy het Donderdagaand 23 Augustus ʼn talentaand gehou waar elke leerder die geleentheid gehad het om die gehoor met hulle verskuilde talente te vermaak.

Daar was sang wat die gehoor na hulle snesies laat gryp het, die ritme van die onderskeie dansitems het die mense laat regop sit en die toertjies was verstommend.

Daar is selfs ʼn moontlike volgende Van Gogh tussen die leerders se kunswerke ontdek.

Onafhanklike beoordelaars het die verskillende items beoordeel en hulle sê na dese is hulle harte deel van die Marlothii’s.

Die volgende leerders is na afloop van die program as wenners aangewys:

  • Individuele sang: Andian Holmwood met sy eie weergawe van die liedjie “Dorp toe” of soos die boerseun dit verkies, “Plaas toe”;
  • Individuele dans: Will Holmwood het die gehoor op hulle voete gehad met sy weergawe van die dansitem “Souserig”;
  • Groepsang: Die Tameletjies, met groeplede Brenden, Will, Andian en Juan (beter bekend as Tjoppies) met die liedjie “Tameletjie”. Hulle het gewys wat dit beteken om uit volle bors te sing;
  • Groepdanse: Johan en Brenden het verras met hulle voetwerk;
  • Toertjies: Chloe met hoepelswaai;
  • Junior kuns: Braydon en Isabella Pieters – dit was regtig iets vir die oog;
  • Senior kuns: Die volgende twee van Gogh’s is ontdek met ‘n gelyke puntetelling tussen Simone en Geertjie.

Corney Myburgh, stigter van Marlothii Learning Academy wens elke kind wat deelgeneem het van harte geluk. “Julle het ons voorwaar beïndruk. Ons is trots op elkeen van julle,” sê sy.

Marlothii Learning Academy het ontstaan nadat ʼn behoeftebepaling in Lephalale gedoen is. Die primêre doelwit van die sentrum is om elke kind te help om sy volle potensiaal te bereik op akademiese sowel as persoonlike ontwikkelingsvlak.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.