Marlothii’s KAN

LEPHALALE — Die leerders van Marlothii Learning Academy in Lephalale is Donderdagaand 25 Oktober vereer vir die prestasies wat hulle deur die jaar behaal het. Die prysuitdelingsfunksie was gehou by die Nederduitse Hervormde kerksaal in Onverwacht.

Corney Myburgh, stigter en eienaar van Marlothii Learning Academy, het die ouers, vriende en familie welkom geheet en verduidelik waarom hulle ’n wurm gebruik as kenteken van die skool.

“Ons wurm sit in ’n draadhart wat die personeel simboliseer wie se liefde so sterk is en waar hulle julle kinders vashou. Sit jou hand in my hand. Ek gaan jou hand nooit laat los nie. Ons gaan jou kind nie verander nie, maar ons gaan verseker dat jou kind trots is op hom- of haarself, elkeen in hulle eie besondere manier,” het Corney verduidelik.

“Die meeste kinders wat hier aankom voel soos wurms. Hulle het geen selfvertroue nie, is verlore, uitgestoot en verwerp deur die “normale” stelsel. Hulle voel meesal soos ’n totale mislukking. Alle kinders is op soek na hulle plek in die lewe en om aanvaar en erken te word. By Marlothii lig ons hulle weer op. Die leuse van ons skool is “JY KAN”, het Corney gesê.

Sy het vir die ouers gesê hulle kan trots wees op hulle kinders en moet raaksien wat hy of sy doen.

“Julle kindes het hard gewerk, die onderwysers het hard baklei, gebid, gehuil, maar vandag is ons almal trots op hierdie kinders,” het sy gesê.

Corney het haar ouers bedank omdat hulle haar al die jare onvoorwaardelik ondersteun het en dat hulle 405 km gery het om dié groot aand met haar te deel.

Die leerders het die gehoor vermaak met ’n lekker ritmiese opvoering van die lied “Groter as groot” waarna die juniors, die intermediêre fase en die seniors elkeen ’n tema uitgebeeld het.

Die eerste hoogtepunt was toe leerders sertifikate en trofeë ontvang het vir goeie prestasies. Chané van Zyl was Marlothii se eerste matrikulant en Corney het met groot trots van haar afskeid geneem.

Die tweede hoogtepunt was die aankondiging van die leiers en leerders wat besondere prestasies behaal het.

JP Smith is gekies as leier 2019, Johan Jansen van Nieuwenhuizen as hoofleier 2019 en Andion Holmwood as leier 2019.

2018 se hoofleier, Stiaan Smith, was baie opgewonde om sy vriende as die nuwe leiers geluk te wens.

Dit was ’n aand van vieringe. Kinders se suksesse en eiesoortige persoonlikhede en behoeftes is gevier. Dit was duidelik dat kinders wat nie in boksies pas nie en nie noodwendig optimaal funksioneer in ’n hoofstroomskool nie, tuis voel by Marlothii. Hier leer hulle om trots te wees op wie en wat hulle is – net soos hulle is, met hulle eie tekortkominge en sterkpunte. Hulle word aanvaar en oorval met liefde en sorg.

En volgens kenners kan kinders groei en vooruitgaan met liefde, vertroue in hulleself en onvoorwaardelike aanvaarding.

Marlothii’s kan!

(Meer foto’s beskikbaar op die Mogol Pos Facebook-blad)

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.