Medupi — net 16% aandeel in beurtkrag

Rudi van der Wal het bedank

LEPHALALE — Beurtkrag. Dit het al ’n huishoudelike naam geword. Nasionale media basuin dit uit – Eskom sê Medupi is die sondebok.

’n Vervoerband het gebreek en wat meer is, vyf elektrisiteitsop-wekkingseenhede is nie beskikbaar nie weens lekkasies van die ketelbuise. Beperkte dieselvoorraad het die situasie net vererger.

Mogol Pos het met Rudi van der Wal, kragstasiebestuurder: kragopwekking by Medupi gepraat om te hoor of die land se beurtkrag net voor Medupi se deur gelê kan word.

Hy kon nie bevestig wat die rede is vir die vervoerband wat gebreek het nie en het gesê ’n ondersoek is onderweg.

Die volle impak van die gebreekte vervoerband is dat daar geen steenkooltoevoer vanaf die myn na die kragstasie was nie. Teen druktyd was die verwagte datum wanneer alles na normaal sou terugkeer Donderdag 24 Oktober.

Volgens Van der Wal het die gebreekte vervoerband slegs 16% bygedra tot verhoogde onbeskikbaarheid in kragopwekking.

Hy het bevestig dat eenheid drie, vier en vyf verlede week afgeskakel was as gevolg van onvoldoende steenkooltoevoer.

Die hanteringskwessies kan toegeskryf word daaraan dat “die steenkooltoevoer nie meer ’n outomatiese proses is nie, met baie min bufferkapasiteit wat die risiko verhoog om konstant die vereiste steenkooltoevoer na die eenhede te verseker,” het hy verduidelik.

Eskom het teen druktyd bevestig dat Van der Wal bedank het. Eskom se woordvoerder, Dikatso Mothae, het gesê sy bedanking hou nie verband met die huidige elektrisiteitsvoorsieninguitdagings nie. Van der Wal se bedanking was reeds in plek toe beurtkrag verlede week ingestel is. Van der Wal het volgens Eskom ’n pos in die buiteland aanvaar.

Mogol Pos kon Van der Wal teen druktyd nie vir kommentaar rakende sy bedanking bereik nie.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.