Medupi se sake in as

LEPHALALE — Nasionale media het berig dat Medupi swak ontwerp is, die tydsduur vir voltooiing het in die laaste tyd byna verdubbel, stakings het die proses gekniehalter, video’s en foto’s van as wat die hele aanleg vol waai was op sosiale media te sien. Wat gaan aan by Medupi?

Teen Maandag 18 Februarie het alles normaal voorgekom

Mogol Pos het met Rudi van der Wal, Kragstasiebestuurder: Kragopwekking, gaan gesels om meer duidelikheid te kry op talle vrae soos wat was/is Medupi se aandeel in beurtkrag, wat veroorsaak die as-lekke, waarom ’n hoofkontrakteursgroep onttrek het, ensovoorts.

Rudi verduidelik dat Medupi aanvanklik beplan is as ’n hoë geoutomatiseerde en lae instandhouding-kragstasie.

“Die ongelukkige realiteit is dat dit nie so uitgewerk het nie. Ons het bevind dat Medupi eintlik baie interaksie van mense nodig het. Dit is wel so dat Medupi en Kusile meer probleme het as die ander kragstasies,” verduidelik Rudi.

Die groot rede daarvoor is dat Eskom reeds in die laat negentigerjare ’n witskrif in die parlement aangebied het wat bepaal het dat Eskom as ʼn maatskappy gaan registreer wat in staatsbesit is, maar deur die maatskappywet gereguleer word.

Volgens Rudi doen Eskom baie goeie langtermynbeplanning en hulle het in die laat negentigs vir die regering gesê daar moet kragstasies gebou word en die beplanning is gedoen. Die regering het blykbaar daardie tyd vir Eskom gesê daar sal nie nuwe kragstasies gebou word nie.

“In 2005 het Eskom weer met die regering gepraat en hulle het besef daar word meer en meer krag gebruik, meer mense het toegang tot krag en die ekonomie het ongelooflik gegroei ná 1994. Daar is opdrag gegee om ’n nuwe kragstasie te bou. Waar daar voorheen veronderstel is dat nuwe kragstasies en kragontwikkeling uit die privaatsektor sou kom, was dit nou ’n opdrag van die regering,” sê hy

Rudi sê daar is gewoonlik ’n periode van 12 jaar nodig om al die beplanning rondom ’n kragstasie te doen.

Eskom is dus in 2005 aangesê om ’n nuwe kragstasie te bou en die eerste konstruksie het in 2007 begin. “Die tyd was net heeltemal te kort,” sê Rudi.

Hy verduidelik verder dat hulle reeds van die begin af ver agter was want Suid-Afrika het reeds in 2008 vir die eerste keer beurtkrag gehad. Daar is ontwerpprobleme, want daar is begin bou voordat daar deeglik beplan is. Stakings en ander probleme het vordering gekniehalter. Dit het veroorsaak dat die produk op die einde baie meer probleme het as wat daar normaalweg van ’n kragstasie verwag sou word.

“Die eerste beloftes was dat die eerste eenheid teen 2011/12 in diens sou wees, maar die projek is in totaal meer as drie jaar vertraag en die eerste eenheid was eers in 2015 in diens.

Die ander probleem waarmee Eskom gekonfronteer was met die tydsverloop toe die beplanning en konstruksie gedoen is, was dat die laaste beplanning vir ’n kragstasie in die middel tot laat tagtigerjare gedoen is – die laaste kragstasie (Majuba) is in 2001 voltooi en op daardie stadium was daar geen beplanning vir nog kragstasies nie. Daar moes heeltemal oor begin word en van die groot kontrakteurs met ervaring was boonop uit die land uit.

Rudi sê verder ander lande, in byvoorbeeld Europa, help mekaar as daar ’n groot aanvraag na krag is.

“Botswana, Namibië, Mosambiek en Zimbabwe se kapasiteit is 10% van Eskom s’n. Daar word 95% krag in Suid-Afrika opgewek en SA wek 45% van die kontinent se krag op,” sê hy.

Rudi het verduidelik dat hidrokragstasies elektrisiteit deur water opwek. Eenvoudig verduidelik is dit ’n dam met water bo-op ’n berg en ’n dam onder die berg. Die water van die boonste dam word na die onderste gepomp om krag op te wek en as die boonste dam leeg is, moet die water weer uit die onderste dam gepomp word om dit vol te maak.

“Wat met beurtkrag gebeur is as daar nie genoeg opwekkingskapasiteit by steenkoolkragstasies is nie, dan moet die dam se water die hele tyd bly loop om te help. Die gevolg is dat die dam teen die aand dolleeg is en dan is daar te min kapasiteit om die water weer alles terug te pomp. Dis hoe die hele netwerk werk.

“Medupi en enige ander steenkoolkragstasie se tyd om aan te skakel wissel tussen 8-18 ure. Jy kan dit nie deur die dag aan- en afskakel nie. As die aanvraag die aanbod oorskry op die steenkoolkragstasies dan moet ons dit aanvul met die hidropompstasies en gasturbines. Tipies wat verlede week met die beurtkrag gebeur het, is dat die steenkoolkragstasies te swak presteer het en ons moes staatmaak op die hidrokragstasies, hidropompe en gasturbines en al die damme is leeggetrek, al die diesel was opgebruik en ons kon nie vinnig genoeg dieselvoorrade kry nie. Ons het ook nie genoeg kapasiteit gehad om die damme vol te pomp nie so dan kom jy in ’n situasie waar die aanvraag daar is, maar dit kan nie bevredig word nie en dan word beurtkrag ingestel,” verduidelik hy.

Eenheid 3 van Medupi was die Sondag toe beurtkrag begin het af gewees, maar dit was weer die middag reg. Teen Maandagoggend het eenheid 6 afgeskakel, wat beteken iets is nie reg nie.

Daar was ’n ondersoek gedoen om die hoofrede te bepaal voor die eenheid weer aangeskakel kan word. Dit gebeur ook dat ’n eenheid van Medupi saam met eenhede van ander kragstasies af is. Dit veroorsaak ’n kragonderbreking en dit neem tyd om dit uit te sorteer. Daar is gevalle soos Maandag toe sewe eenhede gelyk buite werking was en Eskom het dit nie verwag nie.

Rudi sê van 2008 af vandat die projek begin het, was hulle agter met instandhouding.

Eenheid 6 het Maandag probleme gehad as gevolg van stof-lekke wat direk ’n gevolg is van ontwerpprobleme. Die stof van die as het sy pad gevind na een van die plekke op die aanleg wat nie stofbestand is nie.

Baie van die komponente wat in die aanleg geïnstalleer is, kan nie die hoë temperature hanteer nie, want dit is nie daarvoor ontwerp nie en betroubaarheid is dan in gedrang.

“Ons is besig om komponente te kry wat hoër temperatuurbestand is. ’n Ander probleem is dat ons as gevolg van die foute die aanleg nie altyd in outomatiese modus kan plaas nie en dan het jy mense nodig om dit te doen en dit is nie goed vir die as-aanleg nie want dit veroorsaak geweldig vinnig erosie.

“Ons gebruik ’n hoë lugdrukpyp om die as te vervoer na spesiale silo’s op die aanleg. Lug is die vervoermedium en as moet met die lug vervoer word teen ’n spesifieke digtheid wat presies reg moet wees. As die aanleg nie in outomatiese modus opereer nie maar met die hand opereer, is die digtheid nie genoeg nie, dit veroorsaak hoë erosie en lekke.

“Die as word byna een kilometer ver in die pype tot by die silo’s vervoer en een klein gaatjie kan die fyn poeier by die pype laat “uitborrel”. “Soms kan jy nie die lek vinnig genoeg raaksien en diens nie, want die aanleg (of sekere eenhede) moet na regte afgeskakel word.

“Elke eenheid het vier pype wat die as vervoer en die pype is langs mekaar – as die een ’n lek kry is dit ’n kettingreaksie. Daar is gate omdat die komponente van ontwerpkant af nie die regte spesifikasies het nie.

“Dit is nie ongewoon om lekke te kry nie maar mens wil dit graag vinnig agterkom en herstel,” sê Rudi.

Hy sê die identifisering van die lekke is ook ’n uitdaging, want daar is nie genoeg mannekrag op die aanleg nie en ook nie genoeg monitering nie. Daar is ook nie tyd vir behoorlike instandhouding nie. Die regte onderdele is ook nie noodwendig beskikbaar om instandhouding te doen nie.

Omdat die aanleg ontwerp is vir lae instandhouding is dit nie instandhoudingsvriendelik nie.

Daar is mannekragtekorte en daar mag al vir die afgelope 18 maande geen nuwe personeel aangestel word nie. Daar is min mense wat baie ervaring het.

Die hoë graad steenkool word uitgevoer wat ’n goeie inspuiting vir die land se ekonomie is en die laer gehalte steenkool word gebruik by kragstasies.

Rudi het bevestig dat van die kontrakteursgroepe onttrek het van die projek omdat hulle gevoel het die as-lekke is ’n gesondheidsrisiko.

Oor die maatskappy wat onttrek en in ’n moddergooiery betrokke geraak het oor Medupi, sê Rudi dit is bekend dat dié maatskappy finansiële probleme het en dat hulle nie tans betrokke is by die aanleg nie.

Dié kontrakteursgroep het wel ook van die onderdele vir konstruksie verskaf en hulle was betrokke by die finale ontwerp.

Die instandhouding is agter, die aanleg is as gevolg daarvan nie betroubaar nie, daar is nie genoeg mannekrag nie, daar is nie genoeg onderdele nie, omdat hoofkontrakteurs bedank het.

Daar is wel maatreëls ingestel om die as op te ruim, maar daarvoor benodig hulle mannekrag.

Swak ontwerp? Min instandhouding? As wat oral waai? Dis nie ’n gerusstellende prentjie nie, maar daar is hoop.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.