Medupiman groet

LEPHALALE — Johan Prinsloo het vir 41 jaar by Eskom gewerk, met sy uittrede het hy 270 dae agterstallige verlof tot sy beskikking gehad en in dié 41 jaar het hy nét drie dae van sy siekteverlof gebruik.

Johan en Ansie Prinsloo gaan nou rus na 10 goeie jare in Lephalale

Johan het sowat twee weke gelede sy laaste dag in sy nuwe kantoor by Medupi deurgebring nadat hy in 2007 daar begin het. Onder sy leiding is eenheid 6, 5 en 4 reeds gekommersialiseer en gekoppel aan die nasionale kragnetwerk. Dis nou tyd vir ontspan en oorgee aan iemand anders.

Johan sê hy het ʼn studie gelees wat Boeing gedoen het wat gaan oor hoe lank mense lewe nadat hulle afgetree het. Die bevinding was dat mense wat op die ouderdom van 65 afgetree het, gemiddeld 67 jaar oud geword het. Die mense wat op 55 afgetree het, het gemiddeld 76 jaar oud geword. Johan sê toe hy dié studie lees het hy besluit dit is nou of nooit.

“Wanneer is genoeg genoeg? Moet ek nog ʼn jaar wag en nog ʼn salarisverhoging kry of moet ek nog ʼn jaar wag om ʼn jaar by die 41 jaar diens te voeg? You will never have enough. Jy moet iewers besluit dis nou genoeg. Ek het my hele lewe gewerk en nooit vakansie gevat nie. Dis nou my tyd met Ansie en die kleinkinders,” sê Johan.

Johan en Ansie sê hulle het fantastiese jare in Lephalale gehad en dit is ʼn lieflike plek om in te woon. “Hierdie tien jaar in Lephalale was die mees bevredigende tien jaar van my hele loopbaan in die sin daarvan dat ek my eie inisiatief kon gebruik. Medupi is die babatjie wat grootgeword het. Toe ek hier begin het was dit ʼn skoon stuk papier en ek kon die lyne trek. Dit was ʼn een keer in ʼn leeftyd-geleentheid om so ʼn projek van die begin af te vat en ‘groot te maak’,” sê Johan.

Johan was ook deel van die beplanning van die nuwe “groen kantore” waar sy kantoor die laaste paar maande was. “Ons het elf jaar gelede met argitekte om ʼn tafel gesit en die omgewingsvriendelike kantoorgebou begin beplan,” sê hy.

Ansie sê sy kan nie een dag in 41 jaar onthou wat Johan gesê het hy is nie lus om werk toe te gaan nie.

“Jy het ʼn keuse hoe jy in die oggend opstaan. Skop die hond of klim aan die ander kant van die bed af. Alles begin by jouself – jy moet weet wie jy is en jou eie vermoëns ken en weet waar in die lewe jy staan. En natuurlik respek – ek verwag van jou om my met respek te behandel as ek jou met respek behandel,” is Johan se raad aan jong mense.

Ansie is en was nog altyd sy veilige plek. Ek weet ek gaan huis toe en na haar toe en ek kan daar net ontspan.

Nou wag die Weskus. Yzerfontein is hulle nuwe aftreetuiste. Die drieverdiepinghuis word nog gebou en dit gee dié twee ʼn geleentheid om die pad te vat. ʼn “Road trip” lê voor en daarna ʼn salige lewe met ʼn uitsig op die see.

Medupi op dreef.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.