Meer as 6 000 km op fietse

LEPHALALE — Colleen Fourie het in standerd twee vir die laaste keer fietsgery, maar verlede jaar September het sy besluit om weer te begin en op 9 April vanjaar het sy en haar nuwe man, Theo, die lang pad van die Kaap af aangedurf. Al langs die kuslyn af.

Hulle “projek” genaamd “Going the extra mile” behels ʼn hele 6 752 km fietsrit om die omtrek van Suid-Afrika.

Theo (47) en Colleen (54) Fourie het op 9 April vanjaar by Groenpunt in die Wes-Kaap op hulle bergfietse geklim om die meer as 6 000 km langs die Suid-Afrikaanse kus en binnelandgrense af lê. Dié paartjie, wat op 7 April getroud en eintlik verondersel is om op wittebrood te wees, doen dié goeie daad as pasgetroudes ten bate van die Meals on Wheels-organisasie wat daagliks kos aan sowat twee miljoen hulpbehoewende kinders verskaf.

Hulle het hulle konstruksiebesigheid in die Kaap agtergelaat in geloof dat daar weer vir hulle werk sal wees wanneer hulle terugkeer na hulle rit om die land – hulle beoog om op 9 Augustus terug te wees in die Kaap.

Mogol Pos het Woensdagoggend 19 Junie met hulle gesels net voor hulle uit Lephalale gery het, op pad na Thabazimbi, hulle volgende stop. Hulle poog om ongeveer 50 tot 60 km per dag te ry, maar dit hang van baie dinge af soos waar hulle geslaap het, hoeveel opdraendes daar is en hoe laat hulle wegspring.

Dié hartsbesluit om die tog aan te pak het ontstaan nadat Colleen en Theo mekaar by die kerk ontmoet het.

Colleen sê as daar een ding is wat sy vir vroue wil bewys – ook ouer vroue – is dat jy nooit te oud is om jou droom na te jaag nie. “Moenie moed verloor of opgee nie, as jy ʼn droom het, jaag dit na,” sê sy.

Die twee kan nie uitgepraat raak oor die welwillendheid van mense wat hulle sover ervaar het nie.

“Vanaf die dag wat ons in Groenpunt weggetrek het, het ons nog net een aand in ons tent geslaap. Die res van die tyd bied mense hulle huise en soms selfs hulle eie beddens vir ons aan. Ek wens mense wat moedeloos is oor Suid-Afrika kan sien en ervaar wat ons gesien en ervaar het. Mense is oor die algemeen goed en wil graag help waar hulle kan. Ons is sover omring met liefde,” sê Theo en Colleen.

Hulle ry met sakke van onderskeidelik 18 kg en 23 kg wat aan hulle fietse vasgemaak is. Al hulle kos, water, klere en ʼn slaapsak en tent moet in dié twee sakke pas.

Colleen sê hulle het besluit om hierdie tog aan te pak omdat liefdadigheid en om iemand te help hulle baie na aan die hart lê.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.