Mej Bosveld gekroon

Die 18-jarige Veruska Uys is gekroon as Mej Bosveld 2019.
Sy bestuur reeds die afgelope vyf jaar haar eie liefdadigheidsprojek en Facebook-blad waardeur sy skoene en kouse vir minder bevoorregte kinders skenk

LEPHALALE — Die Bosveldbal wat Vrydagaand 28 Junie by Mogolklub gehou is, is jaarliks die voorloper vir die Bosveldfees (vanjaar is die 35ste fees) en die fees word ook tydens dié geleentheid amptelik geopen.

Die hoogtepunt van die aand is natuurlik die kroning van Mej Bosveld en haar prinsesse.

Tienie du Plessis, voorsitter van die Bosveldfeeskomitee, het almal hartlik verwelkom en die organiseerders, komitee en borge bedank vir hulle harde werk en ondersteuning.

Lenie Pieterse en haar ma, Elize, was op hulle pos as puik organiseerders van die Mej Bosveldkompetisie en vanjaar se kompetisie was weer eens ʼn goed georganiseerde glansgeleentheid.
 Paul van Marle, seremoniemeester, het die gaste telkens laat skaterlag met sy spitsvondige opmerkings en “Franse” grappies.

Daar is gesê vanjaar se Mej Bosveld-finaliste was die sterkste groep wat daar nog was.

Die beoordelaars was Yvette Malan (Yvette Malan Eiendomme en ook die hoofborg van die geleentheid), Martin Kruger (Kaeffer), Sanja Auty (Dolce & Gabanna), Maria du Plessis (Palala Boutique Game Lodge & Spa), Liezel Gouws (Flight Centre Associates) en Retha Weideman (Zoeterus Boutique Hotel).
 Veruska Uys van Pretoria het verras met haar sprankel en sy is gekroon as Mej Bosveld en ook aangewys as die besgeklede finalis. Chané Oosthuizen word gekroon as eerste en Petra Human as tweede prinses.

Ellisras se eie Nelia Grobler is die wenner in vier kategorieë – Mej Bosveldnooi, Gehoorkeuse, Fotogenies en Debutante.  

Sy het gestraal in haar modieuse, wye romp.

Al die borge wat die geleentheid moontlik gemaak het word van harte bedank.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.