Meld brande aan

Leoni Kruger
LEPHALALE — Die voorsitter van die brandbestrydingsvereniging (BBV), Nic du Toit, het tydens die vergadering van die Lephalale Gemeenskapsveiligheidsforum (LGVF) verlede Dinsdag beklemtoon dat alle brande aangemeld moet word.
Met die brandseisoen op hande en verskeie brande in die omgewing wat brandspanne reeds laat bontstaan het, is dit belangrik om te weet dat geen voorbrande gemaak mag word voordat die eerste 20 mm reën geval het nie.
Du Toit sê indien brande nie aangemeld word nie (daar is ‘n vorm beskikbaar by Agri se kantoor) gaan daar geen rekords wees van die hoeveelheid brande nie. Hy het bygevoeg dat bewyse van brande ook nodig is om die teenwoordigheid van die Working on Fire (WoF) groep in Lephalale te regverdig.
Verskeie grondeienaars wat die vergadering bygewoon het en reeds voorheen van WoF se dienste gebruik gemaak het, meen hulle teenwoordigheid en dienste is noodsaaklik in tye van nood.
Die WoF-span het onlangs na die staatsgronde waar die ou lugmagbasis was getrek. Die WoF-verteenwoordiger, Frans Mabitsela, sê hulle is baie dankbaar dat hulle nou in die dorp gevestig is, want dit is meer sentraal as Marapong waar hulle voorheen gebly het. Hy het verder gesê dat hulle werksure aangepas is en dat hulle voortaan 12 ure aaneen kan werk met ‘n vier ure breek en nie agt ure soos voorheen nie.
Du Toit het aanbeveel dat hulle, vandat hulle in die dorp is, moet werk aan hulle sigbaarheid en dat bewusmaking van hulle dienste noodsaaklik is.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.