Meld roofdiere aan

Leoni Kruger
WATERBERG — Lesers in die Waterberge kan nou betrokke raak by ʼn navorsingsprojek wat baie voordele vir die Suid-Afrikaanse jagbedryf inhou.
Catspotter, ʼn navorsingwebwerf, is ‘n inisiatief vanuit die jagbedryf om persepsies en inligting wat deur die Limpopo Departement van Ekonomiese Ontwikkeling, Omgewing en Toerisme (LEDET) voorgehou word, verkeerd te bewys. Die dryfveer agter die webwerf is die Limpopo Hunters Liaison Forum (LHLF) wat reeds 20 jaar bestaan.
Die LHLF en die Catspotter-webwerf is ‘n projek wat daarop gemik is om die gebrek in kennis ten opsigte van medium en groot roofdiere (leeus uitgesluit) in Limpopo te registreer.
“Ons beoog om die inligting aan CITES (Convention on International Trade in Endangered Species of Wild Fauna and Flora) deur te gee en hulle daardeur te help in hul besluitneming met betrekking tot die jagkwotas van luiperds in Suid-Afrika,” sê Phillip Bronkhorst, voorsitter van die LHLF.
Die projek word genoem “Die volhoubaarheid en ekonomiese verbruikbare benutting van roofdiere, met die uitsluiting van die Afrika-leeu, deur die buitelandse jagmark in die Limpopo-provinsie”. “Die hoofdoel van die Catspotter Webwerf is om data te versamel oor karnivore se voorkoms sowel as die verspreiding en bevolkingsdigtheid sodat ons brandpunte en dooiepunte kan identifiseer waarop ons kan fokus” sê Bronkhorst.
Geakkrediteerde navorsers, aangestel deur die jagbedryf, in samewerking met verskeie organisasies soos LHLF, PHASA en WRSA, gaan die data verwerk in bruikbare inligting.
“Ons kyk tans veral na luiperds, aangesien ons weet dat die luiperdgetalle gesond is en bestuur moet word. Ons stel wel ook belang in waardevolle inligting oor alle ander karnivore. Heelwat jagters en wildtelers versamel inligting met behulp van ʼn kamera wat by watergate opgestel is. Indien wel, is dit baie belangrik dat die kamera ‘n datum, tyd en sover moontlik ‘n GPS-koördinaat moet voorsien. Indien nie, laat die webtuiste jou toe om ‘n koördinaat te bepaal as jy die plek op ‘n landskaart kan identifiseer,” het Bronkhorst gesê.
“Catspotter is ‘n gemeenskapsprojek. Almal moet en kan deelneem. Selfs jou gids op die plaas met ‘n slimfoon kan ‘n foto neem en plaas. Die webwerf is baie selfoonvriendelik” aldus Bronkhorst.
Lesers word versoek om inligting deur te gee van foto’s van roofdiere, fisiese waarnemings, positief geïdentifiseerde vangste, krapmerke op bome of enigiets wat die teenwoordigheid van ʼn roofdier bevestig.
“Ons wou oorspronklik slegs inligting oor roofdiere, veral luiperds, in Limpopo versamel, maar die projek gaan verseker nou landswyd uitgebrei word en daar is selfs sprake van buurlande wat wil deelneem aan die projek,” het Bronkhorst ten slotte gesê.
Stuur gerus ʼn epos na catspottersite@gmail.com vir enige navrae of meer inligting.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.