Miemie: kunstenaar

Miemie by van haar voltooide skilderye
Miemie by van haar voltooide skilderye

Leoni Kruger
LEPHALALE — Miemie Engelbrecht woon reeds 35 jaar in Lephalale, maar sy het nie van die begin af haar passie vir skilder uitgeleef nie.
Sy het na skool mode-ontwerp gestudeer aan die Tygerberg Tegniese Instituut waarna sy as sekretaresse gewerk het in die narkose-departement van Tygerberg Hospitaal.
Hierna het Miemie saam met haar pa Lephalale toe getrek en by Nedbank begin werk. Dit was aan die einde van 1981. Sy het die liefde van haar lewe, Peet, in die middel van 1982 ontmoet en hulle is in Februarie 1983 getroud. Liefde met die eerste oogopslag. Daarna volg ‘n wittebroodsbaba, Henriëtte (nou 33) en Hester (nou 31).
“Ek het ‘n buurvrou gehad wat gewerk het vir ‘n boutique in Polokwane en ek het begin klere maak vir vroue met ‘n voller figuur. Ek het op ‘n maandelikse basis vir hulle klere verskaf. Daarna het ek klere gemaak vir Dienie Erasmus se winkel in Lephalale en ek het ook trou- en matriekafskeidrokke gemaak” sê Miemie. In 2013 begin sy voltyds saam met Peet werk in hulle maatskappy.
Intussen het die skildergogga haar gebyt. Sy het skilderklasse by Erika van Zyl begin neem en eers net skilderye vir hulle eie huis begin maak. Daarna het sy en haar vriendin Marie Visser een keer ‘n week saam geskilder, maar toe trek Marie en haar man uit Lephalale. Miemie het egter steeds baie gedissiplineerd elke Maandagoggend geskilder terwyl die wasgoed was. Deesdae skilder sy elke dag van 12:00 – 16:00.
In Januarie/Februarie 2014 kom sy egter agter daar is groot fout met haar sig. Dit raak al erger en sy word verskeie kere gediagnoseer met gloukoom. Einde April verlede jaar kry sy ‘n beroerte waarna ‘n breinskandering wys sy het ‘n gewas agter haar linkeroog. Die spesialis sê hulle moet onmiddellik opereer, maar Miemie en Peet het reeds kaartjies bespreek om in Juliemaand by hulle kinders in Engeland te gaan kuier. Sy besluit toe, as dit dan nou so moet wees dat sy blind gaan word, kan sy ten minste nog vir oulaas haar kinders behoorlik sien. Sy besluit om die operasie uit te stel. Die volgende datum wat beskikbaar was, was 17 Augustus. Dieselfde datum wanneer ‘n uitstalling by die wynlandgoed Blaauwklippen in die Kaap gehou sou word om hulle 133ste bestaan te vier. Sy was een van 33 kunstenaars wat gevra was om aan die uitstalling deel te neem. Maar sy het besef dat die operasie nie weer uitgestel kon word nie.
Die operasie was ‘n sukses en die gewas is verwyder, maar sy het steeds die minimum sig in haar linkeroog gehad – sy kon net tussen lig en donker onderskei, maar glo vas dat haar sig sal terugkeer. Sy doen getrou elke dag “oefeninge” om haar ook te leer om weer te sien.
Intussen leer sy deur middel van aanlyntegnieke om haar skildertegnieke te verfyn. Ongeag die linkeroog.
Miemie stal haar kunswerke Saterdag 25 Junie uit by die kerk in Swartwater – sy het reeds 25 skilderye voltooi.
Die lewe het Miemie baie geleer en haar boodskap is duidelik – daar is wonderwerke oral om ons, mens moet net jou oë oopmaak om dit raak te sien. “Moenie jou geluk op ander plekke soek nie, daar is inspirasie oral om ons”.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.