Miems, geplant by waterstrome

LEPHALALE — Miems Erasmus is sinoniem met styl en sofistikasie. ʼn Ma, skoonma en ouma met ʼn hart van goud.

Miems met haar vier seuns, Mike, Tjaka, Johnny en Grové

Miems het Vrydag 2 November 80 jaar oud geword en Saterdagaand het haar familie vir haar by Palm Park Hotel ʼn ewe stylvolle funksie gehou wat bygewoon is deur al vier haar seuns en hulle families.

Baie inwoners sal Miems onthou as die stylfundi wat die bosvelddames “aangetrek” het met die mooiste klere uit haar boetiek wat sy vir jare bedryf het.

Nadat verwelkomingsdrankies in die binnehof genuttig is het gaste na hul asems gesnak toe hulle die saal betree en kon aansit by tafels met ruikers van wit rose, orgideë en krisante, skeppings deur Angelique Pretorius van die Bosveld Blommeklub. Die blomme het alles wat Miems is weerspieël.

Ds Hendrik de Beer van die Gereformeerde Kerk Magol het met skriflesing en gebed geopen en Miems beskryf as die boom wat by waterstrome geplant is waarvan die blare nie verwelk nie.

Tjaka Erasmus, Miems se oudste seun, het namens die kinders ʼn heildronk op sy ma ingestel. “Geluk met ma se verjaardag, ons is trots op jou en sal jou altyd op die hande dra. Ma se impak op almal kan deur ma se dade gesien word. Ma is ʼn sierraad, sagmoedig en dienend”. Tjaka het ook hulde gebring aan hulle pa, wyle Michiel Erasmus, en die groot rol wat Miems in sy lewe gespeel het.

Miems het gesê dat dit haar droom was om haar familie almal by haar te hê met haar verjaardag en hulle van haar liefde verseker.

Die aand is afgesluit met kuier, musiek en dans. Voorwaar, Miems se meetsnoere het op lieflike plekke geval.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.