Minder griep, meer depressie

Dr Lúmari Joubert

LEPHALALE — Dr Lúmari Joubert, algemene praktisyn in Lephalale, sê alhoewel sy die laaste tyd baie minder pasiënte sien wat griep- en verkoueverwante siektes het, sien sy aansienlik meer mense wat aan angs of depressie ly. “Die gemoedere is laag – die inperking was vir seker nie goed vir mense wat sukkel met angs en depressie nie,” sê sy.

Dr Joubert sê sy glo gewoonlik glad nie daaraan om enige telefoniese diagnose te maak nie, maar sy het, as gevolg van die inperking, soms nie ’n ander keuse gehad nie. “Ek wou mense nie onnodig blootstel deur hulle sommer net spreekkamer toe te laat kom nie, maar ‘n telefoniese diagnose is gewoonlik ’n onding.”

Maandag 8 Junie was die eerste dag sedert die staat van inperking begin het, dat sy afsprake gehad het tot 14:00. Sy sien tussen 50%-70% minder pasiënte teenoor dieselfde tyd verlede jaar en sy skryf dit ook toe daaraan dat daar heelwat minder siek mense is.

“Die maskers wat ons dra en die feit dat mense nou meer gereeld hande was en sosiale afstand hou, speel definitief ’n rol daarin dat minder mense vanjaar griep kry. Dit geld ook vir kinders, want hulle gaan nie skool toe nie en word dus nie blootgestel aan infeksies nie,” sê sy.

Dr Joubert sê sy het in die hele inperkingstyd net een pasiënt gehad was positief getoets het vir COVID-19. Sy verseker die gemeenskap dat enigiemand wat by die spreekkamer opdaag met ’n hoes, koors of loopneus, dadelik na ’n ander vertrek geskuif word.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.