Minstens 12 karkasse gevind ná geen water

LEPHALALE — Dit het in Oktobermaand onder Mogol Pos se aandag gekom dat daar minstens 12 karkasse op ’n plaas langs die Stockpoortpad gevind is. Na deeglike ondersoeke deur ʼn veearts is daar vasgestel dat die diere gevrek het van die dors.

Die eienaars van buurplase het onraad vermoed en die hekslotte van die plaas geknip. Die toneel wat hulle daar aangetref het was skokkend. Die karkasse van beeste het om die huis gelê en verskeie wildkarkasse is oral in die veld aangetref. Een van die bure het Mogol Pos besoek en vertel waarop hulle afgekom het.

Nadat ʼn beampte van die Dierebeskermingsverening (DBV) in Lephalale ʼn deeglike ondersoek gaan doen het en die verslag gestuur het na die Nasionale DBV, is Mogol Pos eers versoek om dit stil te hou totdat die ondersoek afgehandel is.

Mogol Pos het Dinsdag 6 November met Irinka Schröder, Nasionale DBV-inspekteur van die Wildbeskermingseenheid, wat met die ondersoek betrokke was, gesels.

Volgens Irinka het die inspekteur wat die plaas besoek het tydens die eerste ondersoek vier waterpunte waargeneem. Twee daarvan was outomatiese waterpunte wat wel gewerk het en die ander twee was waterpunte wat per hand volgemaak moes word en heeltemal leeg was.

Na bewering het die werker op die plaas wat verantwoordelik was daarvoor om die diere water te gee, gesê hy word te min betaal en daarom het hy versuim om water aan die diere te voorsien.

Volgens Irinka bepaal die Dierebeskermingswet 71 van 1962 dat “die eienaar” van enige dier ook iemand kan wees wat in besit is van of belas is met die sorg, bewaring en beheer van ʼn dier. Dit beteken dat of die werker ʼn salaris gekry het of nie, is hy net so aanspreeklik soos die eienaar om te verseker dat die diere altyd toegang tot water het.

“Die versuim daarvan om enige dier van water te voorsien is ʼn direkte oortreding van bogenoemde wet en met die regte bewysstukke sou die eienaars (beide grondeienaars sowel as die werknemers in beheer van die diere) aanspreeklik wees op vervolging. Die geval word tans nog ondersoek om te verseker dat alle inligting beskikbaar is voordat enige verdere besluite geneem sal word,” sê Irinka.

Sy het ook gesê dat die NDBV voortgaan met die ondersoek, maar hulle het seker gemaak daar is tans wel water vir die diere en dat so iets nie weer op die perseel sal plaasvind nie.

Die gemeenskap word versoek om die DBV dadelik te skakel indien daar enige inligting van dieremishandeling waargeneem word.

Die eienaar van die plaas kon nie vir kommentaar bereik word nie.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.