Misdaad gedy — Lephalale bly ’n “hot spot”

LEPHALALE — Aangemelde misdaad in Lephalale en omgewing vir die tydperk Desember 2018 tot Januarie 2019 sluit die volgende sake in:

ʼn Bedrogsaak is aangemeld by die Munisipale toetsgronde in Lephalale dorp op 3 Januarie;

ʼn Roofsaak is Donderdag 18 Januarie aangemeld nadat ʼn drywer op pad was om brood te gaan aflewer toe ʼn groep mense op hom afgestorm het by die Exxaro verkeerslig. Hulle het sy broodtrok na bewering met bottels gegooi. Hy het uit die voertuig geklim en probeer weghardloop maar die betogers het hom ingehaal en R1 800 gevat wat in sy sak was. Hulle het die voertuig deursoek en nog R700 onder ʼn sitplek gekry, waarna hulle die 490 brode wat in die voertuig was gevat het.

Nog ʼn voorval van opsetlike saakbeskadiging is aangemeld nadat dieselfde groep betogers ʼn persoon se voertuig beskadig het deur dit met klippe te gooi. Nog ʼn saak is gemaak nadat een van die betogers ʼn persoon met ʼn vuurwapen gedreig het.

Huisbrake was algemeen – verdagtes kry toegang deur van die huis se deure oop te forseer of vensters te breek. In meeste van die gevalle was die eienaars nie tuis nie. In Steenbokpan is ʼn saak van diefstal aangemeld nadat koper ter waarde van R37 341,55 gesteel is.

ʼn Saak van seksuele aanranding is geopen nadat ʼn vrou in Marapong vir ʼn man water gegee het nadat hy aan haar deur geklop en gevra het vir water. Hy het haar vasgedruk en bo op haar gesit, maar sy kon hom wegstamp.

ʼn Bedrogsaak is aangemeld nadat ʼn verdagte wat homself voorgedoen het as ʼn belegger R16 500 by die klaer geroof het.

Aanrandingsake is geopen nadat die betogers by Exxaro ʼn persoon in ʼn munisipale voertuig op pad was na ʼn vergadering toe ʼn sekuriteitsbeampte met rubberkoeëls na die voertuig geskiet en na bewering die persoon aangerand het.

ʼn Paar voorvalle van diefstal uit ʼn voertuig is aangemeld.

In Witpoort is ʼn voorval aangemeld waar ʼn plaaseienaar ʼn advertensie op Facebook gesien het waar lusernbale te koop aangebied was. Hy het die verskaffer gebel en 500 bale bestel. Hy het ʼn internetbetaling van R70 488 gedoen en nooit die bale ontvang nie. ʼn Saak van bedrog is geopen en die saak word ondersoek.

In die Villa Nora polisiëringsarea is ʼn saak van besigheidsroof geopen nadat daar by ʼn winkel in Shongoane ingebreek en kontant en goedere gesteel is.

ʼn Veediefstalsaak is by Villa Nora SAPS geopen nadat bokke van ʼn veeboer gesteel is. Die verdagtes is onbekend.

Twee voorvalle van winkelroof en een saak van opsetllike saakbeskadiging is aangemeld in die Witpoort Polisiëringsarea.

Op 20 Januarie is ʼn saak van verkragting geopen by Witpoort SAPD. “n Verdagtes wat in die Witpoort polisieselle aangehou was het die saak geopen. Hy het ʼn verklaring afgelê en gesê sowat tien mede-prisoniers het na om toe gegaan en gesê hy moet een van hulle kies. Een van hulle het later langs hom gaan lê en homself op die klaer afgedwing. Hy het hom na bewering deur die loop van die nag verskeie kere verkrag tot ongeveer 04:30 die volgende oggend.

In Hoopdal polisiëringsarea is een geval van residensiële inbraak aangemeld en in Bulgerivier-area is ʼn geval van diefstal aangemeld.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.