Moenie mors nie

LEPHALALE — Lephalale Going Green is die nuwe naam van die skoonmaakaksies wat die afgelope tyd onder die Clean-up Campaign-sambreel gefunksioneer het.

Trudie Grobler wys dat herwinning ʼn deel van die oplossing is om te verseker dat Lephalale skoner bly

Dit was die breinkind van KAEFER Energy Projects, ʼn konstruksiemaatskappy werksaam by Medupi, wat by verskeie geleenthede in samewerking met besorgde inwoners die strate in die dorp en Onverwacht ingevaar en skoongemaak het.

Daar is ook ʼn WhatsApp-groep gestig vir almal wat belangstel om betrokke te raak by die inisiatief wat daartoe bydra dat die dorp skoongemaak en -gehou word met die klem op herwinning.

Op die WhatsApp-groep van Lephalale Going Green is berig van verskeie skoonmaakaksies wat weer eens die afgelope tyd deur privaat persone asook deur die munisipaliteit geloods is. Anita Stevens het die onooglike en onwettige plakkers oor aborsies, groot beloftes en alles wat daarmee saamgaan in die omgewing van die TVET Kollege verwyder. Die Lephalale munisipaliteit het al hope rommel langs Troupandstraat verwyder. Desire Cloete het die area tussen Hermanstraat 27 en die polisiestasie skoongemaak, ʼn hele agt swart sakke vol! Desire sê die parkie regoor die polisiestasie is ʼn groot probleem waarvan die oorsaak dalk die hofgangers asook ander is wat daar wag. Daar loop die vullishouers ook oor wat op ʼn tekort aan vullisdromme dui. Die vuil parkie is dan ʼn probleem vir families wat naweke graag daar wil gaan ontspan.

Volgens die groep is daar nog steeds ʼn probleem wannneer die munisipale vullistrok die groot vullishouers leegmaak en baie van die gemors in die proses op die grond beland, soos verlede week veral in Jan Leestraat. Die woordvoerders van die munisipaliteit het tydens vorige vergaderings onderneem om aandag aan dié probleem te skenk.

Lephalale Going Green in samewerking met die plaaslike munisipaliteit is positief dat daar met verloop van tyd ʼn beduidende verskil gemaak kan word deur middel van almal se samewerking.
Daar is weer Donderdag 4 April om 10:00 ʼn vergadering by Machauka Lodge vir diegene vir wie ʼn skoon omgewing belangrik is. Skakel Trudie Grobler by 082 331 4578 vir navrae.
Die boodskap is duidelik: “Moenie mors nie en raak betrokke by herwinning.”

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.