Mogol Pos in 25ste jaargang

Verlede week se uitgawe van Mogol Pos was nommer een van die vyf-en-twintigste jaargang. Die koerant se eerste uitgawe was op 16 Februarie 1996. Mogol Pos is dus nou meer as 24 jaar in besigheid.

Alle vorige uitgawes van die koerant vertel ʼn storie van ʼn dorp wat drasties getransformeer het. Van die eerste sooispit by Medupi tot die vele inkopiesentrums wat opgerig is. Elke week se uitgawe, soos ook hierdie uitgawe, is soos ʼn joernaal van die wel en die weë van Lephalale en omliggende gebiede.

Harde nuus, skole en kerke se bedrywighede en promosieartikels maak elke uitgawe uniek.

ʼn Koerant se voortbestaan is sy adverteerders, lesers en verspreidingspunte. Dis die deelname van skole, sportsubseksies wat hul nuus vir ons stuur en inwoners wat dinge wat krap of positief is met ons deel.

Hierdie koerant is die 1 176ste uitgawe. Mogol Pos is die enigste plaaslike koerant wat dit nog ooit kon regkry om meer as 1 000 uitgawes uit te gee. Dit is die enigste koerant wat nog nooit een uitgawe oorgeslaan het nie, behalwe die drie weke wat ons jaarliks oor die feesseisoen sluit.

Dankie aan almal wat insette lewer en dankie aan Domitor Drukkers vir die druk van Mogol Pos. Dankie aan ieder en elke adverteerder wat ons ondersteun.

Sterkte aan alle families en vriende van die mense wie se huldeblyke in hierdie koerant verskyn. Hierdie week is koerant is deurspek met hartseer. Mogol Pos se innige meegevoel aan almal wat onlangs geliefdes aan die dood afgestaan het. 

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.