Mogolgholf sluit af

Riaan Nel, Doret Steyn en Jaco Loubser

LEPHALALE — Mogolklub se gholfseksie het Saterdag hul jaarafsluiting gehou ná ’n warm dag op die baan. Gert Pepler, klubkaptein, het die spelers, hul gades en vriende hartlik verwelkom en gesê dat, met die dorp wat leeg loop, daar minder spelers is. Hy het almal aangemoedig om hul vriende wat gholf speel uit te nooi en te inspireer om by die klub aan te sluit.

Gerhard Pepler jr, Gerhard Booysen, Nadia van Vuuren, Louis Rossel en Natie Pretorius

Gert het ’n paar van die jaar se hoogtepunte uitgelig onder andere die jaarlikse Maroelabeker wat ’n groot sukses was en boonop het ’n dame die toernooi gewen. Gedurende die jaar het Gerhard Pepler jr asook Lenanda van der Watt as professionele spelers geregistreer. Lenanda het aan die finale van die wêreldkampioenskappe deelgeneem. Vier pare van Mogolklub het aan die finale van die Windhoek parespel in Pretoria deelgeneem, waarna Riaan Nel en AW Besseling deurgedring het Namibië toe. Hulle verloor dié parespel met een punt en is ’n geleentheid om Portugal toe te gaan kwyt. Gert het genoem dat “die jonger spelers aangetree het en al hoe beter speel”. Iets wat nie aldag gebeur nie is ’n “hole in one” en Arnold Malan het dit hierdie jaar op Mogol se baan reggekry. Volgens PGA TOUR se National Hole-in-One-register is die kans vir ’n gemiddelde gholfspeler een uit 12 000 om ’n bal met een hou te put. Gert het verder gesê dat daar met die putjiespel hierdie jaar vir die eerste keer ’n damesafdeling was.

Henrico Gouws, Martin Nel, Lenanda van der Watt en Christelle van Staden

Nadat die dag se wenners aangekondig is, het Kobus Booysen, visepresident, die trofeë-oorhandiging vir 2019 waargeneem. Die wenners is as volg:
Dubbelputjiespelplaat: Peet en Marnus van Rooyen, Dubbelputjiespel: Riaan Nel en Jaco Loubser, Enkelputjiespelplaat: Doret Steyn, Enkelputjiespel: Riaan Nel, Enkelputjiespeldamesplaat: Nadia van Vuuren, Enkelputjiespeldames: Doret Steyn, Maroelabeker: Christelle van Staden, Maroelabekerbruto: Martin Nel, Maroelabeker dames: Lenanda van der Watt, Maroelabeker junior: Henrico Gouws, Damesklubkampioen 2019: Nadia van Vuuren, Junior Klubkampioen 2019: Gerhard Booysen, C-Divisie: Louis Rossel, B-Divisie: Natie Pretorius, Klubkampioen 2019: Gerhard Pepler, Speler van die Jaar 2019: Riaan Nel.

Riaan Nel en Gert Pepler
Peet en Marnus van Rooyen, Nadia van Vuuren en Doret Steyn

Gert het die Mogolklub bedank wat hulle in alle fasette van die spel bystaan terwyl Annemarie Maloney en Claudia Pepler, komiteelede, die kombuis- en kroegpersoneel bedank het vir hulle hulp deur die jaar en ook met Saterdagaand se funksie.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.