Mogolrugbynuus

LEPHALALE — Mogolrugby se amptelike oefeninge het reeds Maandag 8 Januarie afgeskop en daar sal voortaan elke Maandag en Woensdag vanaf 18:00 tot 20:00 geoefen word.
Die huidige span en afrigters nooi alle ou en nuwe spelers uit om by hulle aan te sluit.
Mogolrugby was in 2017 die wenners van die Waterberg en Limpopo Reserweliga en hulle sien daarna uit om nog groter hoogtes te bereik in 2018.
Die komitee en afrigterspan sê hulle sien ook uit na die ondersteuning van ou en nuwe borge sodat die spelers die beste moontlike geleenthede kan kry.
Die Assupolliga skop einde Februarie/begin Maart af en die Waterbergliga begin direk daarna.
Die komitee doen ʼn beroep op die gemeenskap om Mogolrugby deur middel van fondsinsamelingsprojekte te ondersteun. Een van dié projekte is die Golden Oldies-toernooi, propvol verrassings, wat op 21 April plaasvind.
ʼn Gelukkige trekking sal na afloop van die toernooi gedoen word en groot pryse kan gewen word – meer inligting hieroor sal binnekort bekend gemaak word.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.