Monique, jaar na moord – moordenaar nog op vrye voet

Leoni Kruger
LEPHALALE — Monique Barnard het Donderdag 7 April 2016 in die vroeë oggendure weggeloop van die huis in Onverwacht waar sy saam met haar vriend, Morne Janse van Rensburg, gewoon het.
Haar ma, Louise Loubser, sê sy het die hele Donderdag probeer om vir Monique in die hande te kry, sonder sukses. “Ek het uiteindelik vir Morne in die hande gekry en hy het in trane uitgebars. Toe ek vir hom vra waarom hy so vreeslik huil het hy geantwoord dat Monique weg is en hy is bang hy sien haar saam met ‘n ander man in die dorp” sê Louise.
Louise het haar die Saterdag in Pretoria by die polisie as vermis aangemeld, maar hulle het vir haar gesê sy moet haar by Lephalale Polisie as vermis aanmeld. Louise het die Sondag deurgery Lephalale toe waar sy na bewering van die middag af tot kort voor middernag gewag het voordat sy die regte vorm gekry het om in te vul. Die saak is daarna na die speurders verwys. Louise sê sy het self blaadjies en kennisgewings laat druk en oral in die dorp opgesit in ‘n poging om enige nuus rondom haar kind te kry. Tevergeefs.
  Vir ‘n maand lank het verskeie mense met leidrade na vore gekom, maar die ondersoek het nie gevorder nie. Mense wat haar die oggend van 7 April saam met ‘n man gesien ry het, het na vore gekom met inligting, maar daar was nie genoeg bewyse nie.
Die middag van 6 Mei kom ‘n werker wat gras sny langs die Stockpoortpad af op ‘n erg ontbinde lyk in ‘n stormwatersloot langs die Deelkraalgrondpad. Hy tel vermoedelik ook ‘n selfoon op wat in die gras lê. Dit word by die polisie gerapporteer en hulle vermoed dit is Monique se liggaam, maar as gevolg van die stadium van ontbinding is dit nie moontlik om net op grond daarvan te bepaal wie dit is nie.
Louise word geskakel in Pretoria en sekere kenmerke wat nog sigbaar was aan die liggaam word vir Louise uitgewys. Sy kon bevestig dat dit wat hulle aan haar uitgewys het, wel Monique s’n was – byvoorbeeld ‘n tatoeërmerk. Intussen moes Louise wag vir DNS-toetse voordat sy amptelik van haar kind kon afskeid neem. Die toetse is op Louise en Monique se pa gedoen en volgens Louise is die toetse vyf keer herhaal voordat hulle tevrede was met dit wat hulle gekry het. Sy kon Monique uiteindelik op 15 Julie 2016 te ruste lê.
Die moordenaar is steeds op vrye voet.
Sakkie Louwrens van die Heritage Protection Group (HPG) staan die speurders by in die ondersoek na die verdagte. Hulle het intussen Monique se selfoon in Natal opgespoor by ‘n man wat deel was van ‘n kontrakteursgroep wat blykbaar verlede jaar die gras langs die Stockpoortpad gesny het.
Louwrens het die selfoon reeds in Oktober 2016 in Pretoria afgelaai sodat kenners die selfoonrekords kan nagaan om meer duidelikheid te bring oor wat presies die nag van 7 April 2016 met Monique gebeur het.
Teen druktyd het Louwrens bevestig dat hulle steeds nie terugvoer oor die selfoonrekords gekry het nie.

One Comment on “Monique, jaar na moord – moordenaar nog op vrye voet”

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.