Moord-4 in hof, uitspraak uitgestel

Leoni Kruger
LEPHALALE — Die vier verdagtes vir die moord op die 57-jarige Pieter (Vink) Pieterse op 6 Februarie vanjaar, het Donderdag 17 Maart in die Landdroshof in Lephalale verskyn. Die een verdagte, Joel Matshaba (34) het aansoek gedoen vir borg, terwyl die drie ander, Phineas Molangoane (36), Thabelo Motsamai (22) en Tshepo Rasodi (27) hulle borgaansoeke teruggetrek het.
Matshaba het aangevoer dat hy nie langer in aanhouding behoort te wees nie, omdat hy ‘n diabeet is wat daagliks insulien moet spuit. Hy het beweer dat dit nie moontlik vir hom is in die aanhoudingselle nie en dat die polisie nie saamwerk sodat hy sy medikasie kan gebruik soos voorgeskryf nie.
Hy het verder beweer dat hy met arrestasie aangerand is en in Lephalale distrikshospitaal opgeneem was vir sy beserings.
Die staat het dit aan hom voorgehou dat dit sy eie verantwoordelikheid, en nie die polisie s’n is om die dokter se voorskrifte na te kom.
Hy het ook aangevoer dat hy ‘n besigheid het wat finansiële skade ly as hy nie teenwoordig is nie. Hy het gesê dat sy besigheid aflewerings doen vir onder andere Cashbuild.
Die Landdros het hom versoek om die tipe diabetes waaraan hy ly uit te wys, naamlik diabetes 1, 2 of 3 waarop hy geantwoord het dat hy tipe 3 diabetes het. Die ondersoekbeampte het aan hom uitgewys dat daar nie ‘n tipe 3 diabetes bestaan nie.
Die ondersoekbeampte het die beskuldigde se hospitaalleêr aan die hof voorgelê wat geen rekords van beserings as gevolg van aanranding of enige insulien-inspuitings aandui nie. Volgens die hospitaalrekords is hy in Mei 2016 as diabeet gediagnoseer, maar sy diabetes is in ‘n beginfase wat beteken hy hoef nog glad nie insulien te spuit nie.
Hy het verder aangevoer dat die bestuur en personeel van Cashbuild nie bewus is daarvan dat hy enige aflewerings vir hulle doen nie en hulle ken hom nie.
Die ondersoekbeampte het die hof versoek dat geen borg aan Matshaba toegestaan word nie, aangesien die vyfde verdagte steeds op vrye voet is en die toestaan van borg kan beteken dat die verdagte gewaarsku word of inligting ontvang oor die vordering van die ondersoek. Dit kan die ondersoek benadeel.
Die ondersoekbeampte het die proses van die uitken van die verdagtes en hulle arrestasies aan die hof verduidelik en dit duidelik gemaak dat Molangoane verskeie bekentenisse en uitwysings aan die polisie gemaak het. Hy is met twee vorige geleenthede gearresteer vir verkragting asook vir ontsnapping uit Witpoort se selle by die hof. Hy is later weer in Tembisa gevind en gearresteer.
Molangoane staan tans tereg op aanklagte van moord, verkragting (x2), ontsnapping uit aanhouding, die onwettige besit van ‘n vuurwapen en diefstal.
Daar is geen uitspraak gelewer oor die borgaansoek wat voorgekom het nie aangesien daar nie genoeg tyd was om uitspraak te lewer nie. Die saak is uitgestel tot Dinsdag 28 Maart.
Die beskuldigdes bly in aanhouding en die saak word steeds ondersoek.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.