Moord, dan stroping

Leoni Kruger
Drie lede van ‘n sekuriteitsmaatskappy was verlede Donderdagnag op patrollie in ‘n wildkamp op ‘n wildplaas naby Bela-Bela toe hulle deur sewe gewapende verdagtes in ‘n hinderlaag gelei is.
Volgens kolonel Ronel Otto, Limpopo polisiewoordvoerder, is die een wag in sy regterbeen geskiet, vermoedelik met ‘n pistool. Die ander is almal met kabelbinders (cable ties) vasgemaak.
Kol. Otto sê twee van die verdagtes het by die wagte agtergebly, terwyl die ander ‘n renoster geskiet en onthoring het – ongeveer 2 km van waar die ander wagte aangehou is.
Die verdagtes het te voet gevlug en hulle spore is gevolg tot by die R101 vanwaar hulle vermoedelik deur ‘n voertuig opgelaai is. Hulle het ook een van die wagte se vuurwapen saam met hulle geneem.
Die wag wat geskiet is, het op die toneel aan sy beserings beswyk, hy het hom waarskynlik doodgebloei, maar teen druktyd was die uitslag van die lykskouing nog nie bekend nie. Nadat die verdagtes weg is het die wagte na een van die werkershuise daar naby gegaan en hulp ontbied.
Die soektog duur voort.
Volgens adjudant-offisier Jurg van Heerden van die Limpopo Renostertaakspan, is daar die afgelope naweek ‘n dragtige swartrenosterkoei en haar kalf geskiet in Atherstone natuurreservaat naby Sentrum. Die koei is onthoring, maar die kalf is net doodgeskiet.
In ‘n ander voorval naby Melkrivier is nog ‘n renoster geskiet en onthoring. Geen verdagtes is nog in verband met enige van die voorvalle gearresteer nie.
A.o. Van Heerden sê renosterstropery het nie afgeneem nie en dat dit die laaste ruk weer opgevlam het.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.