Moordsaak-misterie

Leoni Kruger
LEPHALALE — Daar het meer as twee jaar verloop sedert Nic Stopforth oorlede is en sy gesin het steeds geen idee wat daardie noodlottige aand gebeur het nie.
Volgens Riekie Stopforth het sy die aand van 4 Junie 2014 ongeveer 19:00 tuis gekom nadat sy by ‘n Pinksterdiens was. Dit was ‘n Dinsdagaand. Nic het skuins op sy rug op die bed gelê met sy eie pistool in sy hand. Daar was ‘n koeëlmerk in sy slaap.
“My eerste gedagte was dat dit selfdood was en ek dink die mense wat vir sy dood verantwoordelik was, wou gehad het dit moet lyk soos selfdood” sê Riekie.
Sy het dadelik die bure en die predikant geskakel. Die bure het die polisie ontbied en die liggaam is ure later van die toneel af verwyder. Riekie sê dit was opvallend dat die polisie, terwyl die toneel gefynkam is, hulle koppe aanhoudend geskud het en gesê het “hierdie ding maak nie sin nie”.
Nic se liggaam is die Donderdag na die staatspatoloog in Mokopane vir uitkenning en ‘n nadoodse ondersoek is gedoen. Die patoloog het aan hulle bevestig dat dit nie ‘n selfdoodgeval kon wees nie, maar dat Nic vermoor is. Hy het ook ‘n skietwond in sy sy gehad (wat hulle nie die aand van sy dood gesien het nie.)
‘n Paar dinge het nie geklop nie. Daar was ‘n klaarblyklike skietmerk in die stort. Daar was baie min bloed waar Nic op die bed gelê het. Hy het skoon klere aangehad, wat Riekie sê vreemd is, want daardie tyd van die aand sou hy gewoonlik al nagklere aangehad het – veral nadat hy gestort het.
Riekie sê die beddegoed en ander bewysstukke is net daar gelos. Dit is nie saamgeneem as bewysstukke nie.
Met navraag by Lephalale polisie oor die vordering van die ondersoek is Riekie meegedeel dat die ondersoekbeampte wat aanvanklik met die saak gewerk het, vervang is met ‘n nuwe ondersoekbeampte.
Uit moedeloosheid het Riekie ‘n patoloog in Mokopane geskakel. Sy wou weet waarom hou die polisie aan om vir haar te sê hulle wag vir die verslae van die patoloog af. Sy sê sy het nooit terugvoer van hom af gekry nie.
Op 12 Junie 2014 is die eerste deposito aan baasspeurder Piet Byleveld betaal. Sy sê hy was een keer in Lephalale waar hy met haarself en ander werknemers van hulle besigheid onderhoude gehad het. Riekie sê hy het ook vir haar gesê dat hy met die kinders wil praat en dat hy hulle gaan kontak, maar dit is nooit gedoen nie. ‘n Ander keer het hy blykbaar beweer hy is in Lephalale en sou met die verdagtes praat. Sy het nooit terugvoer daaroor gekry nie.
Volgens Riekie het hulle daarna ‘n paar keer telefonies gesels en sedertdien is hy heeltemal onbereikbaar. Meer as R63 000 later. Met geen vordering in die saak nie.
Dit is vir Riekie moeilik om afsluiting te kry sonder om te weet wat regtig daardie dag by hulle huis gebeur het. “Mens kan nie vrede maak nie, want ek weet die saak is onafgehandel en die mense wat waarskynlik vir sy dood verantwoordelik was loop vry rond nadat hulle ons lewens verwoes het” sê sy.
Riekie se voorlaaste gesprek wat sy met ‘n lid van Lephalale Polisie gehad het, was op 7 Maart 2016. Sy sê die polisie het toe steeds vir haar gesê hulle wag op sekere toetsuitslae.
Sy het die nuwe ondersoekbeampte op Woensdag 2 November 2016 ontmoet nadat hy blykbaar vir haar gevra het of sy enige nuwe nuus oor die saak het. Daar is nog met geen verdagtes (Riekie het lankal vier verdagtes se name en besonderhede aan die polisie verskaf) onderhoude gevoer nie. Die uitslae van die ballistiese toetse is nie in die dossier nie en die patologiese verslag is ook nie in die leêr nie.
Mogol Pos het Maandag 7 November navraag gedoen oor die vordering van die saak. Volgens adjudant-offisier Frans Mokoena, Lephalale polisiewoordvoerder, was die saak teen druktyd steeds aangedui as ‘n geregtelike doodsondersoek (MAS49/06/2016). Volgens hom wag hulle nog vir uitslae van toetse. Mogol Pos het ook verneem dat die saak oorhandig is aan ‘n adjudant-offisier omdat hy blykbaar meer ervaring het om sulke sake te hanteer. Dié adjudant-offisier het Dinsdag gesê dat hy nie die saak gaan oorneem nie. Hy het ook gesê dat sekere forensies toetse se uitslae nog nie beskikbaar is nie.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.