Moordverdagtes bekend

Leoni Kruger
LEPHALALE — Die drie verdagtes wat verlede week gearresteer is in verband met die moord op Pieter (Vink) Pieterse op die plaas Sumadi, het Vrydag 10 Februarie in die Landdroshof in Lephalale verskyn.
Die verdagtes, Phineas Molangoane (36), Joel Matshaba (34) en Thabelo Motsamai (22) word aangekla van moord, motordiefstal, diefstal en die besit van ‘n ongelisensieerde vuurwapen en ammunisie.
Mogol Pos het in die uitgawe van 26 Augustus verlede jaar berig dat Molangoane in die Witpoort Landdroshof verskyn het op twee aanklagte van verkragting asook ontsnapping uit aanhouding nadat hy uit die aanhoudingselle ontsnap het. Hy is op 19 Augustus verlede jaar weer gearresteer in Tembisa.
By navraag is vasgestel dat Molangoane onderskeidelik R4 000 en R2 000 borg betaal het op vorige aanklagte teen hom met ‘n vonnis van twee jaar opgeskort vir vyf jaar. Die twee verkragtingsake is uitgestel na 13 Maart wanneer hy weer sal voorkom.
Volgens adjudant-offisier Frans Mokoena, Lephalale polisie-woordvoerder, is dit Molangoane wat die verdagtes met ‘n Mercedes na Pieterse se plaas vervoer het.
Matshaba is blykbaar in die grasdakbedryf saam met familie en volgens Mokoena kon hy nie vasstel of beide Matshaba en Motsamai enige vorige oortredings het nie. Volgens ‘n woordvoerder van die Heritage Protection Group (HPG), ‘n misdaadondersoekeenheid wat die polisie bygestaan het met die arrestasie van die drie verdagtes, het beide Matshaba en Motsamai wel ‘n misdaadrekord.
Nog twee verdagtes asook Pieterse se voertuig, ‘n wit Isuzu-bakkie met ‘n groen streep langs die kant, registrasienommer BYZ 077 L, is steeds soek.
Die drie kom weer Donderdag 16 Februarie voor in Lephalale se Landdroshof.
Die ondersoek duur voort.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.