Motorfietsryer beseer ná voertuig voor hom indraai

LEPHALALE — Die 22-jarige George Kriel is Donderdagoggend 22 November omstreeks 07:10 ernstig beseer nadat die bestuurder van ʼn wynrooi Nissan Sentra na bewering reg voor hom ingedraai het.

Nooddienste en gemeenskapslede besig om George te stabiliseer

Volgens Juandre van Staden, ʼn ooggetuie wat net agter Kriel op die Markenpad in rigting Marken gery het, was Kriel op sy motorfiets besig om die Nissan Sentra verby te gaan toe die bestuurder van die Sentra sonder om sy flikker te gebruik skielik ook na regs gedraai het regoor die ingang van Pioneer Lodge.

Kriel het vir Mogol Pos gesê hy het probeer uitswaai maar het die regterkantste voorste buffer getref.

Met Mogol Pos se aankoms op die toneel pas na die voorval, het Kriel gekla van lae rugpyn. Hy het ook geen gevoel in sy linkerarm gehad nie en hy was baie getraumatiseer en geskok. Verskeie motoriste het stilgehou om hulp aan te bied en die nooddienste, Polisie en verkeer is geskakel.

Die nooddienste het na ongeveer 30 minute op die toneel opgedaag en Kriel dadelik begin behandel vir skok. Hy is per ambulans na Mediclinic Lephalale vervoer vir behandeling van sy beserings.

Teen druktyd was Kriel reeds ontslaan en volgens inligting is hy besig om flink aan te sterk.

Mogol Pos het ʼn paar pogings aangewend om met Kriel se pa in aanraking te kom om bevestiging van sy vordering te kry, maar hy was ongelukkig nie beskikbaar nie.

Volgens adjudant-offisier Frans Mokoena, Lephalale Klusterwoordvoerder, is die voorval in die ongelukkeverslag opgeteken, maar sover Mogol Pos kon vasstel is daar geen saak geopen nie.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.