Muishondmak

Danel en Linda beloon hul gebande bure met bietjie kos, water en aandag
Danel en Linda beloon hul gebande bure met bietjie kos, water en aandag

Ria Wells
LEPHALALE — Mogol Pos het verlede Vrydag 29 Januarie ‘n kolonie van ongeveer 23 gebande muishonde by Igton Steel in die swaar industriële area aangetref. Hondmak. Volgens Ignus en Linda Eramus, eienaars, het dié kolonie spontaan mak geword en al hoe nader en nader aan hulle gekom totdat hulle later aan hulle kon vat. Dié kolonie is nou gereelde besoekers wat daagliks kom groet en met water, kos en ‘n bietjie aandag beloon word.
Volgens Wikipedia, die vrye ensiklopedie, is die gebande muishond (Mungos mungo) ‘n klein muishond wat in Afrika voorkom en uitgeken word aan die duidelike strepe oor die liggaam, vandaar die naam.
Hulle is karnivore en inheems aan Afrika en kom hoofsaaklik suid van die Sahara voor tot in Suid-Afrika. Gebande muishonde kom voor in groot kolonies van tot 75 muishonde en word meestal in beboste grasvelde en klipperige omgewings waargeneem en is geen onbekende gesig in Lephalale omgewing nie.
‘n Volwasse gebande muishond het ‘n gemiddelde lengte van 65 cm. Die stert se lengte is ongeveer die helfte van dié van die liggaam. Volgens Wikipedia het die voorpote vyf ledemate, elk met ‘n lang, geboë klou wat gebruik word om te krap of in die grond te grawe. Die agterpote het vier ledemate, ook met ‘n klou elk.
“Gebande muishonde vreet hoofsaaklik insekte, maar vang ook soms klein soogdiertjies, soos rotte en muise, slange, akkedisse en voëls, asook dié se eiers. Dié karnivore sal ook soms hulle dieet aanvul met wilde vrugte. Harde voorwerpe, soos eiers of slakke, word of in die lug gegooi, of onder die liggaam, tussen die agterpote deur, teen ‘n klip, om van die harde dop ontslae te raak. Gebande muishonde jag dikwels saam met bobbejane”, sê Wikipedia.
‘n Muishondwyfie is vir twee maande dragtig en gee lewe aan twee tot ses kleintjies. Die kleintjies word blind gebore, met baie min hare, maar na twee weke het hulle al ‘n jeugdige pels ontwikkel. Na 10 dae kan hulle begin sien. Interessante inligting is dat voortplanting in ‘n kolonie gesinchroniseer word, sodat verskeie wyfies ‘n paar dae uit mekaar geboorte skenk. Kleintjies soog dus aan enige melkskenkende wyfie. ‘n Gebande muishond het ‘n moontlike lewensduur van 12-13 jaar, maar minder as die helfte van die kleintjies oorleef tot ‘n ouderdom van drie maande.
Volgens Ignus is die voordeel van hulle vriendskap met die gebande bure dat hulle geen las van slange by die besigheid het nie. Gelukkig vir dié besigheid kan die skattige gediertetjies ook nie die staalprodukte beskadig nie.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.