Murangi – ‘n meesterredenaar

Murangi-is-meesterredenaar

Fransa de Beer
LEPHALALE — Murangi Sithari van Hoërskool Ellisras is Donderdag 10 Augustus by Goudini in die Kaap as junior nasionale wenner in die ATKV Afrikaans Redenaars Addisionele Taal Onvoorbereid aangewys.
Om aangewys te word as een van die Limpopo-verteenwoordigers by die nasionale ATKV-kompetisie val nie sommer in enigiemand se skoot nie. Murangi het reeds voorheen bewys dat sy uitstaan in strawwe kompetisies in Limpopo.
Deelnemers het eers aan ‘n uitdunronde deelgeneem waarna hulle aan ‘n semi-finaal met die onderwerp “Moet kinders onder 18 jaar tatoeëring kry”? deelgeneem het. Die onderwerp van die finaal was: “Moet tablette in skole gebruik word”?
Die leerders word van bronne voorsien en kry ‘n tyd om voor te berei. Ván die bronne moet in die toespraak aangehaal word.
Murangi se mening was dat leerders nie van tablette voorsien moet word nie met die argument dat onderwysers die hart van die onderwysstelsel is en dat geen tegniese masjien dit kan vervang nie. Haar tweede standpunt was dat die SA-regering nie finansieel in staat is om tablette aan al die Suid-Afrikaanse skole te voorsien nie en sy meen verder dat tieners nie die verantwoordelikste mense is nie en dat hulle die tablette moontlik kan misbruik of dit kan gesteel word.
Volgens haar het twee sprekers van die Vrystaat, een van die Kaap, een van Gauteng en syself van Limpopo aan die finale rondte deelgeneem.
Murangi en Lerato Ditsela wat in die senior afdeling van Afrikaanse Onvoorbereide Redenaars deelgeneem het, het per bus na die Kaap gereis, daar in ‘n gastehuis oornag en per taxi na Goudini gereis. Lerato se ma het hulle vergesel.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.