Musiekaand verras

LEPHALALE — Sowat 350 gaste het Vrydagaand 3 Augustus die Country to Classic-uitvoering, aangebied deur Eloff Vocal Studios, in die skoolsaal van Hoërskool Ellisras bygewoon. Die optredes het gewissel van klassiek, country, opera, pop en lyndans tot boeremusiek.

Ben Eloff, eienaar van Eloff Vocal Studios en self ʼn musikant van formaat, het die sangers begelei – hulle is immers almal studente by sy sangskool en sy vrou, Rene, het die jong kitaarspelers onder haar vlerk geneem.

Die besondersheid van Vrydagaand se uitvoering was die feit dat nie een van die mense wat opgetree het professionele kunstenaars is nie. Almal is studente wat nog leer om te sing of instrumente te bespeel, maar hulle was bereid om die verhoogvrees af te skud en te wys waartoe hulle in staat is en wat hulle tot dusver geleer het.

Die gemeenskap van Lephalale het weer eens gewys dat daar baie talent skuil en dat dit omgeemense is. Die kunstenaars is telkens met ʼn spontane handeklap bemoedig en aangemoedig – ongeag of hulle nootvas was.

Verskeie kunswerke van Arté Academy is in die voorportaal en saal uitgestal en ʼn pragtige skildery van Surita Steenkamp is deur die skoolhoof van Hoërskool Ellisras, Adriaan Joubert, opgeveil.

Maria Callas, of te wel Ria Wells, het haar rol as aankondiger uitstekend vertolk. Sy het verduidelik watter verskil professionele stemafrigting maak en die gaste van harte bedank vir hulle ondersteuning. Sy het Joubert ook bedank dat die skool hulle splinternuwe saal vir die geleentheid beskikbaar gestel het.

Die dae van verrassings is vir seker nie verby nie – wie sou ooit kon raai dat die veearts, dr Raman Marais, so ʼn mooi stem agter daai welige baard wegsteek?

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.