“My pad met CAT”

my-pad-met-cat

Leoni Kruger
LEPHALALE — Candice Robinson was 23 jaar oud toe sy vir die eerste keer met die dwelm Methcathinone (algemeen bekend as CAT) te doen gekry het. “Ek het pas begin inskakel by ‘n nuwe vriendekring. Een van die meisies het saam met my gewerk en het my saamgenooi. Sy vra toe vir my of ek CAT gebruik en uit vrees dat hulle sal dink ek is simpel het ek JA gesê. Ek was bang hulle verwerp my” sê Candice.
“Dit was die Vrydagaand. Die Saterdag het dieselfde gebeur. En voor jy jou oë uitvee gebruik jy dit elke dag en kan jy nie meer daarsonder funksioneer nie.
Dit raak ‘n bose kringloop. Eers werk jy en dan het jy geld om die dwelms te koop. Dan koop jy al hoe meer dwelms en die geld raak te min. Dan hou jy op om belangrike dinge soos jou rekeninge te betaal sodat jy meer geld vir dwelms kan hê. Die dwelms veroorsaak dat jy later nie meer kan slaap nie en dan verloor jy mettertyd jou werk. Dan begin jy steel. En jy gee nie ‘n duit om van wie jy steel nie” verduidelik Candice.
Sy sê sy het later haar ouma, vir wie sy baie lief was, se trouringe gesteel in ruil vir ‘n sakkie CAT ter waarde van R200. ‘n Goue ketting wat sy by haar oom gekry het, was volgende.
Volgens Candice het haar ouers deurentyd vir haar gesê sy moet met hulle praat as sy ‘n probleem het, maar sy wou nie erken dat sy ‘n probleem het nie.
Haar ouers het later die kaste in die huis gesluit om te verhoed dat sy alles steel. Die huis is later gesluit sodat sy nie kon ingaan nie. Haar persoonlike higiëne het agteruitgegaan. Sy het ten minste tien dwelmhandelaars se telefoonnommers gehad. Mense in Lephalale. Sy kon vir ewig daarmee aangaan, het sy gedink.
Dit was vyf jaar nadat sy vir die eerste keer by “vriende” CAT gebruik het. En sy was reeds vir ses maande werkloos.
“My oom het my geskakel en gesê as ek ‘n probleem het moet ek met hom praat, maar ek was te bang om dit self te sê. Ek het ‘n vriendin gevra om hom te skakel en te sê ek het ‘n probleem. Hy het laat weet hy sal my help, maar ek moet dit dieselfde aand vir my ouers sê. Wat ek toe gedoen het” sê sy.
Waarom besluit om te praat na vyf jaar se ontkenning? “Want ek was OP. Ek het nie meer ‘n huis of ‘n werk gehad nie. Ek was sat gebaklei. Ek kon nie meer nie” sê Candice.
Sy is die volgende dag ingeboek by ‘n rehabilitasiesentrum waar sy vir 8 maande gebly het. Die eerste ruk het bestaan uit dae van bewerasie, hoofpyn, emosionele uitbarstings en paranoia.
Candice sê egter mens moet weet as jy wil “skoon” kom dan moet jy jou lewe 360˚ omdraai. “Verander van werk, vriende, kleredrag. Alles wat jou met die dwelms kan verbind moet uit jou lewe verdwyn. Elke dag is ‘n keuse” sê sy.
Vandag is sy reeds drie jaar “skoon” en omdat sy ‘n tweede kans gekry het, reik sy graag uit na ander wat in dieselfde dwelmnet verstrik geraak het. Ander wat ook nie wil praat nie of te bang is om die eerste stap na ‘n skoon toekoms te neem.
(Lees elders in dié uitgawe van die CAD-groep in Lephalale onder leiding van Candice)

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.