‘n Bloederige Februarie

Leoni Kruger
Tot dusver was Februariemaand ‘n bloedbad. Die maand van liefde het ontaard in ‘n maand van moord en aanvalle.
Afriforum berig dat daar sedert die begin van Februarie 2017 reeds 30 plaasaanvalle in Suid-Afrika aangeteken is waarin 11 mense wreed vermoor is. Vyf mense is binne 24 uur in twee verskillende aanvalle vermoor, onderskeidelik in Mpumalanga en Limpopo.
“Hoeveel mense moet nóg in dié land vermoor word voordat daar daadwerklik opgetree word? Dit wil voorkom of die regering nie bereid is om landsburgers te beskerm nie,” sê Ian Cameron, AfriForum se hoof van gemeenskapsveiligheid.
Cameron sê voorts dat gemeenskappe self moet begin optree en dat die wet genoeg ruimte laat om dit te doen.
In die Beeld van 15 Januarie berig Marietie Louw-Carstens oor “13 dae van geweld”.
Op 1 Februarie word Trevor Rees (76) van Underberg in Kwazulu-Natal aangeval en gemartel. Hy is drie dae later dood.
Op 2 Februarie sterf Nicolaas Harmse nadat hy by ‘n hoewe in Kameeldrift-Wes aangeval word. Nog ‘n man sterf na ‘n aanval op ‘n hoewe buite Pretoria.
Op 3 Februarie word Danie Killian op Leeupoort buite Bela-Bela vermoor.
Op 6 Februarie word Pieter Pieterse met ‘n moersleutel doodgeslaan op die plaas Sumadi buite Lephalale. ‘n Deel van sy een oor word afgesny.
Op 8 Februarie word Niels Erichsen op ‘n hoewe buite Rustenburg aangeval. Hy is ‘n paar dae later dood.
Op 12 Februarie word vier lede van die Smuts-familie buite Balfour, Mpumalanga doodgeskiet.
Op 13 Januarie word Ryno Janse van Rensburg op ‘n hoewe buite Bela-Bela vermoor.
Volgens Sakkie Louwrens van die Heritage Protection Group (HPG), ‘n misdaadbestrydingsgroep wat nou saamwerk met die polisie, het aanvalle op plase en hoewes definitief die afgelope tyd baie toegeneem.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.