‘n Fees soos min

Ria Wells
LEPHALALE — Die Boererumoer van die Nederduitsch Hervormde Kerk Ebenhaeser wat gestrek het vanaf Vrydagaand 9 Junie tot Saterdagmiddag 10 Junie was ‘n fees soos min! Verversings en vreugde, pret en plesier, kuns en kuier was aan die orde van die dag.
Die fees het Vrydagaand 9 Junie, afgeskop met ‘n heerlike ete terwyl ongeveer 400 gaste vermaak is deur gewilde vermaakliksheidskunstenaars soos Wynand en Cheree, Alan Hughes die storieverteller, Loubser en die bekende Mogol boereorkes. Corne du Plessis het ook ‘n veiling waargeneem en vele items is opgeveil vir goeie geld!
Saterdag is gekenmerk deur ‘n groot verskeidenheid kosstalletjies asook handwerk- en kunsartikelstalletjies. Toertjies en perdry en vele ander vermaak soos optredes deur Laerskool Ellisras se revuegroepe en trompoppies het loutere kyk- en luistergenot aan die gaste verskaf. Die saal was propvol ouers, oumas, oupas en vriende wat na die kleingoed wou kyk. Boonop het die kunstenaars van die vorige aand ook Saterdag gedurende die dag opgetree.
Die geleentheid is baie goed deur die hele gemeenskap bygewoon en dr. Daan van Wyk, die nuwe leraar is baie dankbaar en tevrede met die afloop van sy eerste Boererumoer by dié innoverende gemeente.
Het ons jou iewers gekiek? Gaan kyk gerus op Mogol Pos se Facebook-bladsy vir hope foto’s.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.