‘n Legende tot rus

Ben Beukes
Ben Beukes

Leoni Kruger
LEPHALALE — Ben Beukes is op 27 September 1947 gebore en hy het op 31 Augustus 2016 gesterf, ‘n maand voordat hy 69 jaar oud sou geword het.
“Hy het vir 20 jaar lank Bosveld toe gery om ‘n plaas hier te koop” sê Elna oor haar man. “Hy het uiteindelik sy droomplaas langs die Limpoporivier gekry. Mooivlei het hom baie vreugde gegee.”
Rondom 2003 het hy die plaas verkoop en ‘n elektriese besigheid, Electric Warehouse, vir hom en sy oudste seun, Johann, in Lephalale gekoop. Na die plaaslewe het hy tyd nodig gehad om te besluit wat hy volgende wou doen. Na ongeveer ‘n jaar het hy die grond gekoop waar Tsena Khutse vandag steeds staan. Hy het Tsena Khutse van die grond af opgebou en dit na vier jaar weer verkoop.
Nie lank daarna nie, rondom 2008, koop hy onbeboude grond net buite Lephalale op die Markenpad, waar hy Pioneer Lodge ook van niks af opgebou het.
“Na Tsena Khutse het ek vir hom gesê hy mag nooit weer iets bou nie, want dit is te veel stres! Maar hy het altyd sy eie kop gevolg en hy was meeste van die tyd reg met sy besluite” sê Elna.
Elna vertel verder dat Ben gelukkig was solank daar net ‘n dam met water en ‘n waterval is. “Hy was mal oor water”.
In Desember 2014 het alles verander toe hy ‘n breinbesering opgedoen het na ‘n slegte val. Demensie het begin intree en die formidabele man was nooit weer dieselfde nie.
In April 2015 is hy in die Hart Hospitaal in Pretoria se Intensiewe Sorgeenheid opgeneem waar hy vir ses weke behandel is vir ‘n longabses. “Ons het nie gedink hy gaan dit maak nie, maar hy het baie hard geveg en het goed herstel vir ‘n wyle” sê Elna.
Daarna was hy vir ‘n tyd in ‘n versorgingsoord in Pretoria, maar hy het te veel na sy geliefde Bosveld verlang. Hy is verder by sy huis op Pioneer Lodge versorg deur ‘n opgeleide verpleër.
Elna en die kinders, Johann, Wiehahn en Anja, beskryf Ben as ‘n “sterk man met ‘n sagte hart” en hulle sê “jou weggaan laat ‘n groot leemte in ons almal se lewens, ons gaan jou verskriklik mis”.
Elna, die kinders en familie bedank almal opreg wat hulle besoek het, ‘n telefoonoproep gemaak het of boodskappe gestuur het (en dit steeds doen).
“Baie dankie ook aan al die dokters en hospitaalpersoneel van Mediclinic Lephalale wat by Ben se versorging betrokke was”.
“Rus in vrede Pappa”.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.