‘n Maanhaarstorie…

Leoni Kruger
LEPHALALE — Toe Jannie Lewies vroeg Vrydagoggend, 13 Mei, ‘n oproep kry dat daar drie leeus buite sy plaashek lê, het hy opeens gewonder of dit nou is wat Vrydag-die-dertiende vir hom inhou. Lewies se plaas, Gelyk, is in die omgewing van die Tafelkop geleë en grens aan die Beautypad.
Lewies sê kort daarna het nog mense hom geskakel nadat die gerugte van loslopende leeus op die noodradiosisteem afgekondig is.
“Toe nóg mense my bel het ek self begin rondbel om te probeer uitvind wat om te doen net om van een van die plaaswerkers te hoor dat die leeus dit reggekry het om onderdeur die geëlektrifiseerde wildheining te kruip – ‘n vlakvark het die gat vooraf mooi diep gegrawe” sê hy. Wat hom nog meer ontstel het is dat die leeus toe in die omgewing van sy rooibokteelkamp beweeg het. “Volgens een van my werkers was daar drie leeus – een jong mannetjie en twee ouer wyfies – en die wyfie het omgedraai met haar stert in die lug en blykbaar na hom gekyk asof sy lus was vir mensvleis. Daai man sê hy het nog nooit in sy lewe so vinnig gehardloop nie” sê hy verder.
Teen 07:30 Vrydagoggend was Lewies reeds op pad plaas toe. Hy het sy broer, Werner Lewies, ‘n beroepsjagter, geskakel en dié het vir hom gesê hy moet oplet na wat die beeste doen. “As die beeste so op ‘n knop staan moet jy weet daar is gevaar”. Lewies sê sy beeste het inderdaad op ‘n knop gestaan.
Hierna het Lewies almal in die omgewing wat leeus het geskakel, waarna ‘n wildboer van die omgewing vir hom gesê het een van sy beroepsjagters het vroeër die oggend ‘n voertuig met ‘n wildswaentjie vol houthokke, waarin katspesies gewoonlik vervoer word, in die omgewing sien ry.
“Ons wou hulle skiet, want dis nie ‘n aangename gedagte om te dink daar is rondlopende leeus op jou plaas nie en die werkers is angsbevange” sê Lewies.
Kort hierna het Kenwa Mboweni van Lephalale Natuurbewaring daar opgedaag en die spore positief as leeuspore geïdentifiseer. Hulle moes egter ‘n aanbeveling kry om ‘n permit te kry om die leeus te skiet. Lewies sê Kenwa was baie behulpsaam en die permit is teen 14:00 uitgereik, maar toe is die leeus skoonveld! Lewies sê dit lyk asof hulle hoër op teen die grensdraad beweeg het, maar teen druktyd was hulle steeds soek.
Volgens Lewies word daar vermoed dat iemand die leeus opsetlik daar afgelaai het, aangesien die Amerikaners nie meer leeus mag jag nie en van die wildboere dalk te veel leeus het om te onderhou. “Dit is baie duur om leeus te voer net om te weet hulle gaan nie gejag word nie”, sê hy.
Enigiemand met inligting oor dié drie rondlopers kan Lewies se kantoor skakel by 014 763 5687.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.