‘n Nuwe tuin vir Vaalwater

VAALWATER — Die inwoners van Vaalwater kan vir die eerste keer spog dat hulle dorp met ‘n splinternuwe tuin verfraai is.
Hellmut en Mari Lessmann, oud-inwoners van Vaalwater, is onlangs deur Waterberg Distrikmunisipaliteit genader om betrokke te raak by ʼn program “Beautification Vaalwater”.
Die projekbestuurder, Betty Molekwa en Leonard Sole, bestuurder van beplanning en ekonomiese ontwikkeling by Waterberg Distrikmunisipaliteit, het die beplanning vir die tuin gedoen en besluit waar die tuin moet wees.
“Ek en Hellmut het die beplanning en uitleg van die tuin gedoen nadat Molekwa die terrein aan ons uitgewys het. Ons het ʼn voorlegging en uitleg op papier gedoen wat deur die Munisipaliteit goedgekeur is” sê Mari Lessmann.
Lessmann sê Molekwa het hulle gevra om te help omdat hulle iemand nodig gehad het wat weet watter plante in die Vaalwater-omgewing sal groei en maklik sal klimatiseer. “Die plante sal ook na ʼn tydperk van hervestiging moet kan oorleef sonder baie ekstra sorg en water” sê Lessmann verder.
Sy sê die Munisipaliteit was baie beslis daaroor dat slegs plaaslike inwoners betrokke moet wees by die projek en deel mag vorm van die werkspan.
Die arbeid sowel as die materiaal was alles deur Waterberg Distrikmunisipaliteit befonds en daar was ook heelwat inwoners wat klippe en plante geskenk het.
“Vaalwater is die hoofroete na verskeie toeriste- en jaggebiede in die Noord-Westelike deel van Limpopo, sowel as een van die hoofroetes na Botswana. Omdat Vaalwater bekend is daarvoor dat dit nie ‘n baie mooi dorp is nie, het almal besef daar sal iets aan gedoen moet word. ʼn Groot groep inwoners van Vaalwater het reeds ʼn paar jaar gelede begin om ʼn paar fokuspunte in die dorp te verfraai in ‘n poging om die aangesig van die dorp te verbeter. Ons het die probleem onder die aandag van Waterberg Distrikmunisipaliteit gebring en na meer as ʼn jaar se onderhandelinge is die werk goedgekeur,” sê Lessmann.
Die tuin gaan voortaan onderhou word deur Modimolle Plaaslike Munisipaliteit onder leiding van Stan Tema, Vaalwater areabestuurder.
Hellmut en Mari Lessmann bedank almal wat betrokke was by hierdie projek.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.