’n Rare ontdekking!

LEPHALALE — Willie en Kitty Nel van Lephalale het gedurende Desember 2020 ’n nare ervaring gehad toe dokters hulle seuntjie, die 10-jarige DG Nel, met ’n rare “siekte” diagnoseer.

DG het Sondag 20 Desember ʼn koors gehad wat hulle probeer beheer het met koors- en pynmedikasie, maar teen Dinsdag 22 Desember was hy steeds siek en hulle het hom dokter toe geneem.

Die dokter het hom gestuur vir X-stale van sy longe en die ontdekking wat hulle gemaak het, het die gesin se asems weggeslaan.

Daar is gereël dat DG na Montana Hospitaal in Pretoria gaan waar ’n pediater vir hom gewag het. Na verskeie toetse het die pediater vir hom antibiotika voorgeskryf.

“Hy het gesê DG moet vroeg die volgende oggend vir ’n skandering gaan wat toe aandui dat DG eginokokkus het. Dit is ’n rare siekte en volgens medici kry net een uit ’n miljoen mense dit,” verduidelik Kitty.

Dit veroorsaak siste en die sist in sy longe was bietjie groter as ’n gholfbal.

DG is op 26 Desember geopereer en die sist verwyder. Volgens die dokter sou die herstelproses in die intensiewesorgeenheid tussen vier en sewe dae duur.

Kitty sê dit was vir hulle ongelooflik moeilik om hulle seuntjie in die hospitaal te los, aangesien die covid-regulasies stipuleer dat hy nie besoekers mag ontvang het nie. Sy sê ook dit was ’n vreesaanjaende gedagte om hulle kind alleen te laat in ’n hospitaal wat oorvol is van covid-pasiënte.

“Ons bedank ons Skepper vir groot liefde en genade asook dr Landman vir sy vinnige optrede na die diagnose.

“Dankie ook aan dr Alden, dr Roos en suster Juna Niemann vir alles wat hulle vir ons seuntjie gedoen het sowel as ons familie en vriende vir hulle deurlopende ondersteuning,” sê Willie en Kitty.

DG is op 28 Desember ontslaan en hy sterk tuis aan.

Volgens die Cambridge woordeboek is eginokokkus ’n tipe lintwurm (= ’n lang, plat organisme wat in die ingewande van mense en ander diere woon) van die geslag (= groep naby verwante wesens) ook bekend as eginokokkus.

Kitty sê dokters het gereelde ontwurming (mense en diere) voorgestel om te verhoed dat so-iets met jou kind gebeur. 

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.