ʼn Sonkring in ons midde

V.l.n.r.: Phien Meyer, Bets Kruger. In die rolstoel agter is Loraine Viviers en agter staan Gerda du Plooy (een van die versorgers). In die bed lê Lenie van Deventer. Agter haar staan versorger Annetjie Jansen en langs haar Triphina Moloto en Lizzy Mocheko. Voor in die stoel sit Kotie Snyders

LEPHALALE — Daar ís nog mense wat die son in ander se lewens laat skyn. By die Sonkring-tehuis is liefde en versorging nie onderhandelbaar nie. Dit is ʼn veilige vesting vir dié mense in die gemeenskap wat nie meer op hulle eie kan woon nie.

“Ons kry net liefde van elke inwoner af – mense sê altyd ál wat bejaardes in die lewe wil hê is om te weet hulle is geliefd, maar óns is die gelukkiges – ons word oorlaai met liefde van hulle kant af,” sê Nadine Schoeman, stigter van die Sonkring-tehuis in Onverwacht. Sonkring-tehuis se deure het in 2018 geopen.

Nadine se ouma, die 97-jarige ouma Lenie, het vir jare by haar ma gewoon, maar later het hulle haar Warmbad toe geneem. “Sy het baie vinnig agteruitgegaan tydens haar verblyf daar en toe bring ons haar terug, want hier was iemand in die dorp wat toe so ʼn versorgingsplek begin het. Sy was nie gelukkig daar nie.

Die besluit om haar te skuif het oornag gekom. Ek het nog nooit in my lewe gedink daaraan om so iets te doen nie, want ek is nie so tipe mens nie, maar ek het die volgende dag ʼn eiendomsagent gebel en ʼn huis gekry. Die res is geskiedenis.

Nadine het vir haar vriendin, Hannelie Lötter, albei oudleerders van Hoërskool Ellisras, vertel van haar idee en Hannelie was dadelik reg vir die uitdaging. Saam het dié twee Sonkring-tehuis as nie-winsgewende organisasie begin bedryf en sien tien personeellede tans om na die inwoners.

Ouma Lenie is tans die oudste inwoner. Sy kan nie meer loop nie, is blind en het demensie. Maar sy is gelukkig waar sy nou is en sy word goed versorg.

Met die opening van Sonkring was daar reeds drie inwoners en net een personeellid. Later was daar sewe inwoners en daar is tans tien personeellede “wat almal eintlik alles doen”.

Die sewe personeellede is feitlik almal versorgers en hulle wissel mekaar af sodat daar 24-uur iemand op diens is.

“Dr Hester Stander is altyd gewillig om tuisbesoeke te doen en sy is nou amptelik almal se dokter. Sy is baie betrokke en niks is ooit vir haar te veel nie,” sê Hannelie.

Die huis wat hulle op die oomblik huur het vyf kamers, maar hulle dink ernstig daaroor om ʼn groter huis te koop, aangesien daar ʼn groot behoefte in die gemeenskap is. ʼn Lang waglys is bewys daarvan.
 Nadine en Hannelie doen ʼn beroep op die gemeenskap om betrokke te raak by Sonkring.

“Enigiemand wat op enige manier betrokke wil raak, al is dit net om nou en dan ʼn koppie tee te kom drink en met die mense te gesels, kan Nadine gerus skakel. Enige kosskenkings soos melk, groente en vleis sal ook verwelkom word. Hulle benodig ook mense wat kan help om nou en dan die inwoners se naels en hare te versorg.

Skakel Nadine by 082 893 6226 of Hannelie by 082 970 5000 vir meer inligting.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.