‘n Vrot storie

Sybil, Cinthea en Edward probeer die gemors opruim

Leoni Kruger
LEPHALALE — Susan Wentzel en Cinthea Erasmus het ‘n baie onaangename verrassing gekry toe hulle verlede Donderdagmiddag na werk by hul huis in Blouhaaksingel in Onverwacht aankom. Verskeie sakke vrot vleis het in hulle voortuin gelê. Oortrek met brommers en die reuk onuitstaanbaar.
Volgens ‘n man wat by die PPK Lighuis net verder af in die pad werk, het hy vroeër die dag gesien hoe ‘n munisipale vullistrok op die sypaadjie voor Susan-hulle se huis staan en dit was vir hom vreemd aangesien dié vullistrokke gewoonlik nie van die pad af trek nie.
Susan sê hulle het herhaaldelik probeer om die polisie en die munispaliteit in die hande te kry, maar sonder sukses.
Mogol Pos het ongeveer 15:30 daar opgedaag en vir Sybil Nieuwoudt, DA-raadslid in Onverwacht, in die hande gekry. Die polisie het intussen gesê hulle kan nie uitkom na die toneel toe nie, want al hulle voertuie was in gebruik.
Sybil het met Edward Mashishi van die Departement: Afvalbeheer by Lephalale Munisipaliteit gepraat en hy het onderneem om die probleem uit te sorteer. Edward het inderdaad ‘n ruk later by die huis opgedaag en nie geskroom om self in te spring om die sakke met vrot vleis agter op sy eie bakkie te laai en te vervoer na die asgate waar daar vir gevalle soos hierdie voorsiening gemaak word.
Mogol Pos het intussen vasgestel dat daar wel ‘n ooreenkoms is tussen die munisipaliteit se afvalbeheer-divisie en sekere voedselkettingwinkels wat behels dat hulle vleis, wat nie meer geskik is vir menslike gebruik nie, by die winkels kan gaan haal en verwyder na die aangewese vuillisterrein waar dit vernietig word.
Mogol Pos is in besit van die vorm waar die vleis afgeteken is deur die winkel en ontvang is deur ‘n munisipale werker op Woensdag 22 Maart. Die hoeveelheid vleis is bereken as net meer as 300 kg.
Volgens Eben Badenhorst, gesondheidsin-spekteur in Lephalale, het hulle ooreenkomste met sekere voedselverskaffers dat hulle geskakel word indien bederfbare produkte soos vleis nog op die rak is na die vervaldatum. Hulle gaan haal dit dan en gee dit vir byvoorbeeld krokodilplase of varkboere. Hy reik egter ‘n serftifikaat uit en teken die produkte af by die verskaffer. Hy is nie bewus van hierdie spesifieke geval nie en die vorm in Mogol Pos se besit is nie die wettige sertifikaat waarvan hy praat nie.
Na ‘n gesprek met Tebogo Motsomi, ‘n inwoner in Blue Hawk straat in Onverwacht, het hy bevestig dat hy wel ‘n ooreenkoms met dié spesifieke kettingwinkel het dat hy hulle vleis oorneem wanneer dit nie meer geskik is vir menslike gebruik nie. Dié winkel het duidelik weer ‘n ooreenkoms met die munisipaliteit om dit af te lewer. Hy beklemtoon egter dat die vleis hoegenaamd nie vrot is as dit by hom afgelaai word nie, dit is nog heeltemal geskik vir sy twee honde. Dit is wel ‘n groot hoeveelheid vleis vir net twee honde.
Daar is egter nie antwoorde op waar die vleis was tussen Woensdag 22 Maart en Donderdag 23 Maart toe dit in Erasmus se tuin gevind is nie en dit is ook onverklaarbaar waarom dit oor die heining gegooi is sonder enige verduideliking.
Mogol Pos het Vrydagoggend 24 Maart met Joshua Hlapa, hoofbestuurder van afvalbeheer by Lephalale Munisipaliteit gepraat en hy was nie bewus van enige vleis wat deur die munisipale vullistrokke êrens afgelaai word nie.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.