Nag van gruwels

Jan Terblanche

VAALWATER — ‘n Vrou in haar laat vyftigerjare is Vrydagoggend 18 Augustus in die vroeë oggendure omstreeks 03:00 in haar huis in Seringstraat in Vaalwater verkrag en beroof van onder andere ‘n selfoon en geld. Dié vrou was derde in ‘n reeks van vier voorvalle waar inwoners Vrydagoggend vroeg aangeval en beroof is.
Volgens Erna Duvenhage het haar man, Pieter, Vrydagoggend omstreeks 01:30 wakker geword van ‘n lig wat in hul huis in Bosveldstraat skyn. Hy het gedink dit is dalk die televisie wat aan was en toe hy by die woonkamer instap sien hy ‘n onbekende man wat met ‘n flits in die huis inskyn. Die deur was op ‘n skrefie oop. Pieter het vir die man “já” geskree waarna hy weggehardloop het.
Volgens inligting is die verdagtes daarna na ‘n huis in Kirkwoodstraat waar hulle ingebreek en onder andere selfone en juweliersware gebuit het.
Die verdagtes het hulle vernietigingstog voortgesit na Riana van Heerden se huis, ook in Seringstraat. Hulle het haar na bewering met ‘n 9 mm pistool aangehou en haar glo probeer verkrag, maar sy het om hulp geskree en terugbaklei. Riana se seun, Jan Terblanche, wat in ‘n woonstel op dieselfde erf bly, het gehoor hoe sy skree en na die huis gehardloop en die pistool van die een verdagte probeer afneem, waarna hy na bewering deur ‘n tweede verdagte met ‘n skroewedraaier in sy kop gesteek is. Sy een oor is ook feitlik afgesny.
Volgens Ernst Redelinghuis, ‘n pastoor in Vaalwater, het die polisie in Vaalwater hom Vrydagoggend omstreeks 05:50 by sy huis besoek en gesê daar was dieselfde nag ook drie plaasaanvalle. Dit kon nie bevestig word nie.
Die polisiewoordvoerder in Vaalwater kon teen druktyd steeds nie telefonies bereik word nie, maar volgens inligting dui die spore op drie verdagtes. Hulle spore is deur ‘n polisiehond by verskeie ander erwe uitgewys.
Teen druktyd was die verdagtes steeds op vrye voet.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.