Nagsluiper — potensiële gevaar

Leoni Kruger
LEPHALALE — Sommige mense noem hom die nagsluiper. Dié wat reeds onder sy lang vingers deurgeloop het, noem hom ander name. Op die oomblik is hy net lastig en ‘n onnodige uitgawe. Maar wat as hy gekonfronteer word?
Die nagsluiper breek gewoonlik by plekke in waar daar nie mense is nie, hy is topfiks, dra altyd ‘n rugsak, spring met gemak oor wildheinings en oor die breedte van ‘n tweespoor-grondpad, hy het groot voete (nommer 11 of 12), is lank en fris, hy is vertroud met teenspoorsny en hy ken die hele omgewing. Hy steel hoofsaaklik kos en koeldrank of water, maar hy het ook al klere en beddegoed gesteel. Hy hardloop soos die wind en lê met gemak 60 km per dag veldlangs af.
Dié man, wat verskeie boere in die omgewing al behoorlik die harnas in gejaag het met die skade wat hy aanrig, het verlede week weer toegeslaan.
Volgens Thys Eloff, voorsitter van die gemeenskapspolisiëringsforum (GPF), is dié man definitief goed opgelei en bestaan die moontlikheid dat hy ‘n soldaat was. Eloff wonder ook oor wat die inhoud van sy rugsak is. “Dit kan dalk ‘n wapen wees” sê hy.
Die feit dat hy altyd inbreek waar daar nie mense is nie, is definitief vooraf beplan meen Eloff, maar die gevaar lê daarin dat mens nie weet hoe hy sal optree indien hy verras word nie. “Hy is nog nooit op heterdaad betrap nie, so mens weet nie waartoe hy in staat is nie” sê hy.
Eloff versoek die gemeenskap om dit dadelik aan te meld indien ‘n veiligheidsradio gesteel is. “Die moontlikheid is nie uitgesluit dat hy ‘n radio in sy besit het nie, want hy is die spoorsnyers altyd een voor” sê Eloff.
Enigiemand met inligting oor soortgelyke inbrake op plase waar net ‘n deur of venster gebreek is en kos en ander huishoudelike ware vermis word, kan Thys Eloff skakel by 082 588 8305.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.