Nathan verloor kankerstryd

Nathan
Nathan

Leoni Kruger
LEPHALALE — Die kankerlyer Nathan Hogan (6) het Maandagoggend sy aardse stryd teen kanker verloor. Sy ma, Nolene, het dit Maandagoggend op Nathan se spesiale Facebook-blad, Blou vir Nathan, aangekondig met die woorde:
 Hierdie is die heel moeilikste “post” wat ek al geskryf het so my woorde gaan min wees. Jesus het vanoggend vir Nathi kom haal. Stilletjies is hy na sy hemelse huis toe. Ons harte is gebreek en ons weet dat die lewe na vandag nooit weer dieselfde gaan wees nie. Nath…jou plekkie is leeg maar ons sal jou nooit ooit vergeet nie.  
 Jy het so ‘n groot impak op ons lewens gemaak. Ons is vir altyd lief vir jou. Ons wil net dankie sê vir almal wat vir Nath lief was en ondersteun het die afgelope 3 jaar. Xxx T.
Nathan is op vierjarige ouderdom (2014) met Graad vier Neuroblastoom-kanker gediagnoseer. Op daardie stadium het die gemeenskap geld ingesamel deur middel van ‘n gesinsdag om sy ouers te help om hom na Richardsbaai te neem vir spesialisbehandeling. Die kanker was vir ‘n rukkie dormant totdat dit vroeër vanjaar weer aggressief begin versprei het.
Nathan het geweldig pyn gehad, maar voluit geveg. Tot Maandagoggend.
Boodskappe van medelye het ingestroom op die Facebook-blad. Die gemeenskap van Lephalale en omgewing weet almal van die klein vegter wat net nie opgegee het nie.
Mogol Pos wens Nathan se ouers, gesin, familie en vriende baie sterkte toe met die groot verlies.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.