Nee vir MKWAP twee?

Leoni Kruger
LEPHALALE — Die tweede fase van die voorgestelde Mokolo Krokodil (Wes) Wateraanvullingprojek (MKWAP) is Donderdag 26 Mei tydens ‘n openbare vergadering by die Mogolklub aan die publiek bekendgestel.
Donavan Henning van Nemai Consulting het ‘n oorsig van die projek gegee en verduidelik dat water ‘n groot probleem in Lephalale is. “Groot ontwikkelings word beplan vir die Waterberg steenkoolvelde wat in die Lephalale-omgewing geleë is. Dié ontwikkelings sluit onder andere die moontlikheid in dat daar in die toekoms nog kragstasies in die omgewing opgerig kan word, die uitbreiding van Grootegeluk se mynaktiwiteite en nog steenkoolmyne, moontlike petrochemiese industrieë, die moontlike ontginning van gas en die toenemende bevolkingsgroei in die area met gepaardgaande landelike en stedelike ontwikkeling.
Verskeie faktore, waaronder die huidige en toekomstige ontwikkeling, voorsien dat die aanvraag na water in die Lephalale-area oor die volgende 20 jaar gaan toeneem. Juis as gevolg van die beperkte beskikbare water het die department van water en sanitasie ‘n lewensvatbaarheidstoets uitgevoer tydens die eerste fase van MKWAP om vas te stel hoe die toekomstige aanvraag na water hanteer moet word. MKWAP1 is sedert Junie 2015 in werking.
Grondeienaars of verteenwoordigers van grondeienaars, eiendomskenners en ander belanghebbendes vanuit veral die Steenbokpan-omgewing het die vergadering bygewoon en gesê dat hulle bekommerd is oor die nuus en dat hulle plase later niks werd sal wees nie.
Julius Erasmus, eienaar van die plaas Rooipan wat aangedui is as een van die areas waardeur die pyplyn moontlik gaan loop, het gesê die boere is keelvol gegéé en wat kry hulle in die plek daarvan? Hy het gesê dat hy reeds vier serwituutpaaie op sy grond het en dat nog een (wat ononderhandelbaar is indien die pyplyn wel deur die plaas loop) sal veroorsaak dat sy grond later geen waarde het nie.
Henning het geantwoord en gesê dat daar gekyk word na moontlike alternatiewe om die impak op die omgewing te verminder – veral vir die grondeienaars in Steenbokpan. Hy het egter gesê die tekort aan water in die area wat baie ryk is aan steenkool, plaas druk op die ontwikkelaars. “Water is nodig en water is ‘n probleem in hierdie area” sê Henning.
Hy het ook verduidelik dat van die rykste steenkoolvelde in Suid-Afrika in die Bosveld is en dit bring noodwendig ontwikkeling wat weer ‘n impak op die omgewing het. Hy het gesê dat spesifiek Medupi baie water nodig het om lugbesoedeling te voorkom.
Volgens Henning is dié fase twee in 2010 op ys gesit en een van die probleme was die toekoms van steenkool. “Daar was onsekerheid oor die rol wat steenkool voortaan in kragvoorsiening sou beteken en daarom is die eindooreenkoms nie destyds deur alle rolspelers geteken nie. Mokolodam kan egter net vir ‘n sekere periode water lewer en dit, saam met die droogte die laaste tyd, beteken water is dringend nodig” sê Henning.
Henning het die vergadering weer verseker dat daar na drie ander alternatiewe ook gekyk word, maar dat die Steenbokpanroete waarskynlik die gunsteling is. Erasmus het verder gesê dat Eskom die grondeienaars geleer het dat hulle “streetwise” moet wees en hulle weet die ontwikkeling sal voortgaan, ongeag hoe dit die gemeenskap raak.
Henning het die belanghebbendes verseker dat die grondeienaars se veiligheid baie belangrik geag word en dat hulle hul sekerheidsvereistes moet deurgee sodat dit aangeteken kan word.
Hy het verseker dat daar baie duidelike reëls aan die werkers gestipuleer sal word, onder andere dat hulle glad nie in die serwituut mag beweeg buite werksure nie, hulle mag nie kommunikeer met die plaaswerkers nie, hulle mag glad nie op die grond beweeg nie en hulle moet duidelik sigbare klere en harde hoede dra. Hy het ook gesê dat daar streng toegangsbeheer in die serwituut toegepas gaan word. “Die konstruksiewerkstye word beheer en dit is gewoonlik minimaal in die aand” sê hy.
Henning het bevestig dat konstruksiekampe uiteraard in die omgewing waar daar gewerk word, opgerig sal word en van die grondeienaars het hulle bekommernis uitgespreek daaroor en hoe dit misdaad kan laat toeneem.
Die vraag is ook gevra hoe gaan risikobestuur toegepas word in die geval van eksotiese wild wat moontlik na ander kampe geskuif sal moet word. Daar is gepraat oor in hoe ‘n mate die geraas van konstruksie die wild en die aanwas kan beïnvloed en hoe skadebepaling of verliese gely bepaal gaan word.
Elana Greyling het ter afsluiting gevra of daar enigiemand is wat dink daaraan wat ná die pyplyn met hierdie besondere deel van die Bosveld gaan gebeur. Sy het gevra wat die kumulatiewe uitwerking van die ontwikkelinge en nog ‘n pyplyn vir almal se nageslag inhou. Sy het afgesluit deur te sê dat daar waarskynlik niks van die Bosveld oor sal wees nie. Industrieë gaan oorneem en die bosveld verwoes.
Henning het haar geantwoord dat hy baie empatie het met haar gevoel daaroor, maar dat ontwikkeling onafwendbaar is.
Fase een van MKWAP was die daarstelling van ‘n paralelle pyplyn langs die bestaande pyplyn om die waterverskaffing vanaf die Mokolodam aan te vul.
Fase een behels dat die Mokolodam se water aangevul word om te voorsien in die groeiende aanvraag na water vir die tussentydse tydperk tot ‘n oordrag pyplyn vanaf die Krokodilrivier (Wes) geïmplementeer kan word. Dié plan moet oor die langtermyn die volle opbrengs van die Mokolodam benut en wanneer WKWAP2 voltooi is moet dit as ‘n stelsel saam funksioneer.
MKWAP2, wat tydens Donderdag se openbare vergadering bespreek is, behels die oordrag van water vanaf die Krokodilrivier (Wes) na Steenbokpan en Lephalale.
Dié wateroordragskema is vanaf die Krokodilrivier (Wes) by Vlieëpoort naby Thabazimbi na die Lephalale-area en wel deur middel van ‘n sisteem wat die volgende behels:
‘n Keerwal en waterontrekkingswerke, insluitende ‘n balanseringsdam, reservoir, ontslikkingswerke en ‘n pompstasie by Vlieëpoort (naby Thabazimbi); ‘n oordragstelsel (ongeveer 100 km) bestaande uit drie potensiële pyplynroetes vir die pyplyn, waarvan die voorkeurroete parallel met die spoorlyn loop; ‘n drukbreekreservoir en ‘n operasionele reservoir. ‘n Leweringstelsel, bestaande uit ‘n gravitasiepyplyn (ongeveer 30 km), loop uit die operasionele reservoir na die Steenbokpan-area wat dit verbind met fase een se werke.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.