Nét 625 g!

LEPHALALE — Mericia en Rudi de Beer, albei inwoners van Lephalale, se piepklein Christiaan is Saterdag 2 Junie per noodkeisersnee in die Unitas Hospitaal in Pretoria in die lewe gebring. Mericia was egter net 25 weke swanger en Christiaan weeg 625 g. ʼn Klein bietjie meer as ʼn blok botter.

Mericia was aanvanklik met ʼn infeksie in die Mediclinic Lephalale opgeneem, maar sy is Vrydagnag na Unitas oorgeplaas.

Teen druktyd was Christiaan se toestand steeds stabiel en bloedtoetse het aangedui dat sy brein en niere goed funksioneer. Daar is egter ʼn gat in sy hart, wat blykbaar nie buitengewoon is wanneer ʼn baba so vroeg gebore word nie. Hy het ook al begin melk drink.

Volgens inligting sal Christiaan na alle waarskynlikheid nie voor September 2018 ontslaan word nie en Mericia sal in dié tyd naby die hospitaal moet bly en leef. Hulle ander seuntjie is net nege maande oud en hy moet ook versorg word en Mericia gaan ook vir ʼn geruime tyd geen inkomste verdien nie.

Linqui Janse van Rensburg, Mericia se werkgewer, wil die gesin graag finansieel bystaan aangesien daar tans baie ekstra uitgawes is. Enigiemand wat ʼn bydrae wil lewer, hetsy finansieel of anders, skakel Linque by 083 246 5496.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.