Nie “stupid” nie

LEPHALALE — Die berugte Lutgen Landman of Cornelius Gabriel Volschenk of Grant Strydom, wat plaaslik bekendgestaan het as Ellisras Nutsman, word wyd gesoek vir beweerde identiteitsdiefstal, diefstal bedrog.

Landman het in April 2018 oornag uit Lephalale verdwyn nadat hy verskeie mense na bewering bedrieg het en weg is met hulle geld. Sake van bedrog en diefstal is by Lephalale SAPD aangemeld.  

Mogol Pos het weer in April 2019 berig dat hy in

George in die Wes-Kaap opgemerk is en dat hy daar met sy lewe voortgegaan het as Grant Strydom.
 ’n Jong ma van twee kinders het Mogol Pos geskakel en vertel dat sy met hom in ʼn verhouding was, maar later uitgevind het sy naam is Lutgen Landman nadat haar ma op sy ID-dokument afgekom het. Hy het ʼn klomp wolhaarstories opgemaak en sy het hom geglo. Die polisie in George is daarvan in kennis gestel, maar hy was reeds weg by die gastehuis waar hy geskuil het.

In Julie vanjaar het ʼn ander vrou die koerant geskakel en bewyse gestuur dat Landman werk onder die naam Cornelius Volschenk. Volschenk is haar swaer, wat houers (containers) by Landman bestel het. Volgens haar moes Volschenk ʼn deposito betaal en ʼn afskrif van sy ID-dokument saamstuur.

Volgens Volschenk se polisieverklaring het hy gereageer op ʼn advertensie op Facebook genaamd die “Container Guru”.

ʼn Kontaknommer is verskaf en Volschenk het twee houers gekoop en ʼn deposito elektronies oorbetaal. Hy sou die res van die geld betaal sodra die houers afgelewer word.

Volschenk sê tydens sy gesprek met Landman het dié hom versoek om ʼn afskrif van sy identiteitsdokument aan hom te stuur. Hy het ʼn foto daarvan geneem en dit na Landman “ge-WhatsApp”. Volschenk het egter onraad vermoed toe die aflewering nie gedoen word nie en hy het die bank versoek om die geld terug te betaal in sy rekening.

Volschenk sê ook in sy verklaring dat verskeie mense hom hierna geskakel en beskuldig het dat hy hulle ingeloop het met die betalings van Wendyhuise wat hy op Facebook verkoop. Hy het sy ID-foto op Facebook gesien saam met beskuldigings van slenters.

Volschenk se vrou het toe besluit om ʼn Wendyhuis op die Facebookblad Wendy Guy van Landman te koop.

Op haar versoek om ʼn afskrif van sy ID-dokument het hy vir haar Volsckenk se ID-besonderhede gestuur.

Sy het in antwoord daarop ʼn foto van sy eie ID-dokument vir hom via WhatsApp gestuur en sy antwoord daarop was: “Who is that? You really think that’s me? I’m stupid but not that stupid. I’ve never used my own ID. Only ID’s sent to me. Never a trail that leads back to me”.
Nog ʼn boodskap van hom lees: “I’m not as stupid as you think. I have a fall guy for everything. Using people desperate enough to make money using their bank accounts, ID, personal details. Anything I need. People are very easy to manipulate, but obviously so are you”.
 Intussen het Mogol Pos vasgestel dat Landman onder minstens agt verskillende besighede handel dryf.

Die een telefoonnommer wat op die Wendy guy se Facebookblad verskaf word is deur speurders ondersoek en dit het aangedui dat Landman in Port Elizabeth is.

Mogol Pos is in besit van die verklaring wat by Robertson SAPD afgelê is.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.