Nóg 3 ontsnap — “dis ongehoord”

WITPOORT — Drie moordverdagtes, Jeremiah Mochongo (34), Lovemore Onward Morera (35) en Innocent Khumalo (43), het Donderdag 14 Maart vanuit die aanhoudingselle by Witpoort Polisie ontsnap.

Innocent Khumalo, Jeremiah Mochongo and Lovemore Onward Morera

Hulle was in aanhouding vir die moord op wyle Jasper von Kleist wat plaasbestuurder was van die plaas Dale in die Tom Burke polisiëringsarea. Von Kleist is Woensdagnag 21 Maart 2018 noodlottig gewond nadat die verdagtes eers vir Charlie Solomon (seun van die plaaseienaar) geskiet en gewond het.

Daar was sewe verdagtes by die aanval betrokke waaronder Mosambiekse en Zimbabwiese burgers.

Volgens ʼn mediaverklaring deur Kolonel Moatshe Ngoepe, Provinsiale Polisiewoordvoerder, het die verdagtes ontsnap nadat hulle die tralies teen die dak van ʼn oefenkamer oopgesaag en deur die dak na hulle vryheid geklim het.

Mogol Pos het gesels met Sakkie Louwrens van die Heritage Protection Group (HPG), ʼn spesiale ondersoekeenheid van ernstige misdade, wat baie nou betrokke was by die arrestasie van die verdagtes en hy het sy teleurstelling namens homself en sy kollegas uitgespreek. “Ons het vir maande lank onverpoosd na die verdagtes gesoek, dit beteken baie harde werk vir baie lang ure, en nou is dit alles tevergeefs,” sê hy.

Volgens ʼn eks-polisiekolonel wat anoniem wil bly, behoort polisie-aanhoudingselle elke uur besoek te word dwarsdeur die dag en nag en indien dit wel gedoen was sou die polisie sekerlik besef het daar word gesaag aan tralies in die oefenkamer. “Dit is ongehoord en onaanvaarbaar dat verdagtes van veral ernstige geweldsmisdade so maklik uit aanhouding ontsnap. Waar gaan dit stop?” vra hy.

Enigiemand met inligting oor die verdagtes wat tot hulle herarrestasie kan lei, word versoek om adjudant-offisier Pitso Radipabe by 082 414 2279 of die stop misdaadnommer 086 001 0111 te skakel of alternatiewelik ʼn SMS te stuur na die misdaadlyn 32211 of dit aan te meld by die naaste Polisiestasie.

Die omstandighede rakende die ontsnapping word ondersoek.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.