Nóg ’n eerste vir Dorothy

LEPHALALE — Dorothy Davies van Sanlam Ellisras het weer eens ʼn eerste bereik toe sy onlangs die eerste vrou in Sanlam was wat die gesogte 1 Ster Adelaar-toekenning ontvang het.

Willem Barnard, Dorothy en Keith Davies

Dié toekenning word gegee aan adviseurs wat gedurende hulle loopbaan by Sanlam sekere verkoopsmylpale met baie hoë standaard behaal.

Die verskeie kategorieë van die Orde van die Sanlam Arend gee adviseurs die geleentheid om erkenning te ontvang vir hulle prestasies regdeur hulle loopbaan by Sanlam.

Alle adviseurs by Sanlam neem deel aan die spesiale uitdaging en ʼn nuwe adviseur wat by Sanlam aansluit begin onmiddellik deelneem aan die prestigeklub.
Die Arend-toekennings word op grond van die volgende kategorieë toegeken:
• Lidmaatskap • Yster Arend • Brons Arend
• Silwer Arend • Goue Arend • Adelaar • 1 Ster Adelaar.

Die spesiale gesogte toekenning sal later die jaar tydens ʼn spesiale toekenningseremonie in Kaapstad aan haar oorhandig word.

Willem Barnard, Dorothy se bestuurder, sê dit is ʼn groot voorreg om iemand in Limpopo te hê wat die gesogte toekenning ontvang. Hy sê verder dat so ʼn toekenning nie outomaties deur enigiemand ontvang word nie, dit neem volgehoue harde werk en toegewyde diens aan kliënte. Willem reken dat kliënte wat Dorothy gekies het om hulle adviseur te wees en dié wat haar advies gevolg het, seker kan wees dat hulle in goeie hande is en dat hulle finansiële sake in orde behoort te wees.

Dorothy het dan ook soos elke jaar tydens die Limpopo-prysuitdelingsfunksie met die meeste van die toekennings weggestap. Sy is weer aangewys as Sanlam Limpopo en Sanlam Noordland se top-adviseur. Sy het ook uit Sanlam se 2 000 adviseurs in die agtste posisie geëindig en hierdeur vir ʼn uitstappie na Mexiko gekwalifiseer. Sy het ook vir haar 20ste IQA (International Quality Award) gekwalifiseer. Die toekenning word deur LIMRA gegee. Hulle is gestig in 1960 om kwaliteitverkope in die lewensversekeringsbedryf te bevorder. Dit word as een van die mees gerespekteerde toekennings in die bedryf beskou en word deur 75 maatskappye in 29 lande gebruik. Dit word jaarliks toegeken om uitstaande produksie en besondere kwaliteit en behoud van besigheid te beloon.

Weer eens was 2018 vir Dorothy ʼn uitstekende jaar en sy bedank al haar kliënte vir hulle volgehoue ondersteuning en sy onderneem om haar diens aan haar kliënte vol te hou en dit nog verder te verbeter.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.