Nóg ʼn jong man sterf

Die 25 jarige Sebastian Grobler is Saterdag 13 Januarie in die Netcare Unie Hospitaal in Alberton oorlede nadat hy Woensdag 10 Januarie in Pretoria in ʼn baie ernstige motorfietsongeluk was.
Sebastian het in Lephalale grootgeword en was ʼn leerder by Laer- sowel as Hoërskool Ellisras. Hy het in 2010 gematrikuleer en sou op 28 Julie vanjaar 26 jaar oud geword het.
Volgens sy suster, Zanté, was hy op 10 Januarie tussen 12:00 en 12:30 met sy motorfiets op pad om vir hom middagete te gaan koop (soos sy gewoonte elke dag was) toe die bestuurder van ʼn Ford bakkie voor hom ingery en vermoedelik oor hom gery het. Zanté sê hy was reeds op die ongelukstoneel in ʼn koma en is na Pretoria-Oos Hospitaal se ongevalle-eenheid geneem. Hy is van daar af per noodhelikopter na Netcare Unie Hospitaal in Alberton geneem waar hy in die Trauma-eenheid opgeneem was.
“Hy was vir ongeveer vier ure in die teater om inwendige bloeding te stop en om die skade aan sy hart en lewer te probeer herstel. Hy het verskeie beenbreuke en erge breinbloeding en –swelling gehad. Hy was deurgaans in ʼn kritieke en onstabiele toestand,” sê Zanté.
Zanté sê hulle ma, Celia Ebersöhn, haar stiefpa, Rennie de Wet, haar jonger boetie Remi de Wet en ouma en oupa, Lamé en dr André Ebersöhn, was langs Sebastian se bed die laaste paar minute voor sy dood. “Sy longe het platgeval en al sy organe het stadig maar seker begin ingee,” sê sy.
“Ons was 18:30 by die hospitaal en het gewag vir die besoektyd wat 19:00 begin, toe die suster aan diens my ma om 18:45 skakel en sê: ‘go be with your son’. Hy is 19:30 dood.”
Zanté sê hulle het weer eens besef “God works in mysterious ways”, want haar ouma het “toevallig” op die dag van Sebastian se dood vanaf Stellenbosch (waar sy woon) na Johannesburg gevlieg.
“My pa sou ook ‘toevallig’ die aand by my oorslaap in Pretoria, want hulle was op pad terug na Polokwane vanaf die Oos-Kaap waar hy by sy broer gekuier het. My ma moes deurry vanaf Botswana waar hulle woon. Almal naby aan hom het kans gehad om hom te groet”, sê Zanté.
Sebastian laat sy ma, Celia Ebersöhn, sy pa Konsul Grobler, sy suster Zanté Grobler, broer Remi de Wet, stiefpa Rennie de Wet, stiefma Lacya Grobler, sy ouma, oupa en talle vriende agter.
Zanté sê Sebastian het met sy dood weer eens die hele familie bymekaargebring soos wat hy altyd gedoen het. “Ons mis hom ontsettend baie!”
Die familie bedank die noodambulanspersoneel, die nood-eenheid by Pretoria-Oos Hospitaal, die dokters en die personeel van die intensiewesorgeenheid by Netcare Unie Hospitaal vir hulle wonderlike diens en uitstekende mediese sorg.
‘n Geregtelike doodsondersoek word gedoen en ʼn saak van roekelose en nalatige bestuur is teen die bestuurder van die voertuig geopen by Sinoville SAPD.
ʼn Roudiens vir Sebastian word Saterdag 20 Januarie om 10:00 vanuit die PPK Lighuis in Onverwacht, Lephalale gehou.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.