Nood met noodwiele!

LEPHALALE — Dit is al lank ‘n tendens dat noodwiele van geparkeerde voertuie af gesteel word. Een so ‘n voorval het nou onlangs weer helder oordag by Tambotie Toyota plaasgevind.
Volgens André Lötter, handelaars-hoof, word gedienste voertuie vanaf die werkswinkel na die voorkant van die besigheid geneem en daar geparkeer vir die eienaar om dit af te haal nadat seker gemaak word dat alles in orde is. Só was dit ook Dinsdag, 10 Januarie. Kort nadat die kliënt sy voertuig gaan haal het, het hy ontdek dat sy noodwiel nie meer aan die voertuig is nie en het Tambotie Toyota dadelik gekontak.
Hulle het vir die tydperk wat die kliënt se voertuig daar gestaan het, die sekuriteitskameras gefynkam en op interessante inligting afgekom. ‘n Volkswagen paneelwaentjie het stadig aangery gekom en voor die Hilux gestop. ‘n Persoon aan die passasierskant het uitgeklim, die deur oopgelaat en ‘n groot lap oopgehou en gemaak asof hy iets aan die Volkswagen afvryf. Intussen blyk dit dat ‘n ander persoon onder die slagoffer se bakkie inkruip en die noodwiel verwyder, waarna dit in die paneelwaentjie gelaai word. André sê dat dit volgens die video slegs 40 sekondes neem om die noodwiel te verwyder. Hierdie video is ook op Mogol Pos se Facebookbladsy geplaas.
Hy waarsku alle persone om gereeld seker te maak dat hul noodwiele nog aan die voertuie is, maar versoek die publiek om op die uitkyk te wees vir die Volkswagen paneelwa met registrasienommer SDH 067 GP en hulle asseblief dadelik te kontak by 014 763 2294 indien die voertuig in die dorp opgemerk word. Volgens inligting is die VW beslis nie aangemeld as ‘n gesteelde voertuig nie en die eienaar se adres is in Mamelodi, Pretoria. André sê dat een so ‘n wiel in die orde van R8 000 kos en indien ‘n paar sulke wiele in een maand in een dorp by verskillende plekke gesteel word, dit ‘n aardige bedrag beloop. Hy voel sterk dat hierdie skelms so gou moontlik aangekeer moet word.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.