Nooit te oud!

Tsheko met sy sertifikaat wat deur Umalusie uitgereik is

Ria Wells
LEPHALALE/RIETFONTEIN — Tsheko Alfred Mocheko is bykans 67 jaar terug op 19 Februarie in Rietfontein, Seleka-distrik, gebore. Hy het sy skoolloopbaan daar tot st. 6 in 1969 voltooi. “Dit was toe Ellisras nog nie so groot was nie”, sê hy.
Nadat hy klaar was met standard ses moes hy uitspring en begin werk soek en hy wou baie graag ‘n polisieman word. Tsheko het by Ellisras Polisiestasie aansoek gedoen om as konstabel opgelei te word, maar hy was nie gekeur om polisiekollege toe te gaan nie. “Ek weet nie wat was die fout nie. Maar ek het vir drie jaar saam met konstabels Hannes Coetzee en Tienie Nel in die kantoor gewerk. Hulle het my baie geleer en ook om goeie Afrikaans te praat en skryf” vertel hy.
Hy is dus Afrikaans, Engels en Tswana goed magtig.
“Daarna het ek as pompjoggie begin werk by oom Nols van Biljon wat daardie jare die Shell-garage op Waterkloof gehad het. Later het hulle my ‘n kassier gemaak en ek het gevorder tot by “site captain””.
Toe besluit Tsheko in 2012 om verder te studeer. Hy is as volwassene by Seleka Secondary School toegelaat met o.a. vakke soos Engels, Wiskunde, Rekeningkunde en Lewensoriëntering. “Ongelukkig het hulle nie Afrikaans as vak gegee nie”. Hy druip egter daardie jaar Wiskunde, Engels en Rekeningkunde.
Die volgende jaar slaag Tsheko wel sy Engels en in 2016 behaal hy die mylpaal deur die laaste vakke te slaag.
Maar nou het Tsheko steeds drome om nog verder te studeer “as dit die Here se wil is dat ek nog lewe”. Die probleem is egter dat Tsheko nie weet in watter rigting en watter vakke om te neem nie. Hy doen ‘n ernstige beroep op enige persoon wat sy weg oopsien om as mentor vir hom op te tree en hom van advies kan bedien om hom te skakel by 083 994 2208.
Tsheko het ook ‘n boodskap vir oud en jonk: “Jongmense – studeer, vergeet die stoutigheid en bly uit die strate. Opleiding is ‘n goeie ding in die lewe. Fokus op die toekoms, want julle het die geleenthede. En die oueres: Jy kan nog leer. Moenie sê jy is te oud daarvoor nie”.
(Wat ‘n mooi voorbeeld en getuigskrif. Dankie Tsheko dat jy dit met ons gedeel het — Red)

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.