Nutsman Landman in George

LEPHALALE — Die Ellisras Nutsman of te wel Lutgen Landman, wat in April 2018 spoorloos uit Lephalale verdwyn het nadat hy verskeie mense in die dorp baie geld geskuld het, is moontlik in die Wes-Kaapse dorp George waar hy met sy lewe voortgaan as Grant Strydom.

Lutgen Landman as “Grant Strydom”

Mogol Pos het die naweek van 23 Maart 2019 inligting ontvang van ʼn vrou, Irene. Haar dogter, Sandra, het ʼn paar keer saam met Landman na Klub 1814, ʼn dansplek in George, gegaan. Hy het vir Sandra gesê hy het ʼn seuntjie gehad maar dié is dood en dat hy werk by ʼn plek waar hy kinders “red” wat in die tronk is.

Lephalale Polisie het ook inligting vanaf Ronel*, die ma van twee seuns ontvang. Hulle was vir ʼn ruk in ʼn verhouding en foto’s van Landman met Ronel se twee seuns sowel as die vier van hulle gelukkig saam, het op sosiale media verskyn.

Die inligting is dadelik met Lephalale Polisie opgevolg en hulle het bevestig dat daar na hom gesoek word nadat sake van onder andere bedrog teen hom geopen is. Irene het onraad vermoed nadat sy na “Grant Strydom” se Facebookprofiel gekyk en gesien het hy het geen ander vriende op Facebook nie. Hulle het verder ondersoek ingestel en afgekom op Mogol Pos se webtuiste waar daar verlede jaar oor hom berig is. Nadat hulle hom gekonfronteer het, het hy hulle dadelik op alle sosiale mediaplatforms geblok. Irene het hom ʼn week gelede vir die laaste keer gesien.

Ronel het nie Mogol Pos se oproepe beantwoord nie, maar die koerant is in besit van WhatsApp-boodskappe tussen Sandra en Ronel waar Ronel sê Landman het vir haar gesê hy het ʼn plaas en sy kind en die kind se ma is vermoor.

Haar boodskap aan Sandra was “bly weg”.

Landman, wie se besigheid in Lephalale ook bekendgestaan het as Lutgen Landman Contractors, het in April 2018 spoorloos uit die dorp verdwyn nadat hy sy woonstel in die nag ontruim en die sleutel in die deur gelos het.

Verskeie mense in Lephalale is steeds woedend omdat hy hulle ingedoen het met geld, nooit die werk voltooi het waarvoor hulle betaal het nie en mense wat desperaat was vir werk uitgebuit het.

Teen druktyd het Lephalale Polisie bevestig dat die polisie in George ingelig is oor Landman se doen en late en dat hulle stappe sou neem om hom te arresteer waar hy in ‘n gastehuis tuisgaan.

*Skuilname om die betrokkenes se identiteit te beskerm.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.