Nuwe baadjie vir Bosveldfees

LEPHALALE — Die bosveldfeeskomitee beplan groot dinge vir vanjaar se fees met ‘n splinternuwe voorkoms op die koop toe!
Kunstenaars gaan vanjaar die geleentheid hê om op te tree by ‘n groot onderdakverhoog – soos wat die geval is by ander groot feeste.
Daar sal genoeg tafels, bankies en sambrele wees en natuurlik die pawiljoen vir diegene wat na die kunstenaars wil luister – ideaal vir ‘n Bosveldwinter.
Die dorser feesgangers kan gerus wees want, daar sal soos in die verlede, steeds ‘n biertent met goeie vermaak wees vir laataandkuiers saam met vriende.
Die Tour de Bos-fietswedren kry ook ‘n splinternuwe roete met die wegspring en eindpunt by die hoofhek van die feesterrein. Dit gee toeskouers die geleentheid om die fietsryers te ondersteun. Fietsryers kan uitsien na goeie pryse asook medaljes en trofeë vir die eerste plekke. Inskrywings begin die oggend vanaf 6:30.
Nog ‘n splinternuwe item op Saterdag se arenaprogram is ‘n Trail Bike-vertoning, aangebied deur Extreme Sport Shows. Dit behels twee vertonings van 30 minute elk. Hiermee saam gaan Jed, The Beat Boxer Beatbox-vertonings. JSC Johannesburg Skydiving Club gaan opwindende vertonings hou en die bonus is dat feesgangers ‘n papierbord vir R100 kan koop – jy kan dalk die gelukkige een wees as een van hulle op jou bord land!
Die goue oues is natuurlik die gewilde 4×4-vertoning asook die potjieskoskompetisie, Mej Tiener, Blommetjie, Bulletjie en Baba-kompetisies, senior-burgerete, beesteskou, hondeskou, mallemeule en natuurlik hope stalletjies.
Toegangsgeld is R80.00 per volwassene en R40.00 vir kinders 13 jaar en jonger.
Hou gerus die Mogol Pos dop vir verdere inligting.

One Comment on “Nuwe baadjie vir Bosveldfees”

  1. Goeiemôre – hierdie is net n gedagte, die KKNK, Aardklop en Innibos, is suksesvol, waarom nie kunste hier key nie, Elana Greyling is onder ons neus, en sy kan n monoloog doen soos min, wat van advertensie plaas vir eenman vertoning kan doen, laat kore optree, Daar is nog baie idees, wat kultuur aanbetref. Onthou asb net n gedagte!

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.